Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma van verlate baba steeds soek

Die babameisie wat einde verlede jaar voor die Vredenburg Provinsiale Hospitaal se hek ontdek is, het ’n huis gekry.

Dis nou wel ’n tydelike reëling, maar sy is volgens die polisie veilig en word mooi versorg.

’n Veiligheidswag van die hospitaal het die babameisie Maandag 30 Desember omstreeks 06:00 voor die hek gewaar, waar sy vermoedelik deur haar ma gelaat is.

Konst. Porcha George, wat ’n strafregtelike saak van kinderverlating kragtens die Wet op die Beskerming van Kinders teen die baba se ouers ondersoek, is oorval met oproepe.

Mense van heinde en ver het haar gebel om die kind aan te neem, of het belanggestel om babaklere en -benodigdhede te skenk. Sy het die belangstellendes na die regte partye verwys, maar die navrae was eenvoudig te veel.

Weslander het uiteindelik ’n boodskap op versoek van die polisie op sosiale media geplaas waarin die publiek gevra word om konst. George nie oor maatskaplike kwessies te pla nie, maar slegs met betrekking tot die opsporing van die baba se ouers.

Intussen het Weslander ingestem om ’n afgeepunt vir skenkings vir die baba te wees.

Vele Weslander-lesers het die skenkings na die koerant se kantoor gebring.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, gaan die ondersoek voort. Die baba se biologiese ouers is nog nie opgespoor nie.

Weslander het Donderdag 16 Januarie berig dat die baba se biologiese ma strafregtelik aanspreeklik gehou en vervolg kan word.

“ ’n Strafregtelike ondersoek is ’n vereiste, al was dit die ma (wat moontlik nie in staat is om vir die baba te sorg nie) se voorneme om die kind by die hospitaal te los waar ’n verantwoordelike volwassene haar sou vind, al dan nie,” lui ’n deel uit die berig.

Aanneming is ’n ingewikkelde proses en gebeur nie oornag nie.

Enigeen wat graag ’n kind wil aanneem, moet eers ’n geakkrediteerde agentskap kontak, waarna ’n maatskaplike werker aan hul saak toegeken sal word.

Besoek die aannemingsorganisasie adoption.org.za vir ’n volledige lys geakkrediteerde aannemings­agentskappe en maatskaplike werkers.

Onthou, die besluit om aan te neem is ’n groot besluit; jy en jou gesin moet die uitwerking daarvan op jul lewe versigtig oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.