Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Marx wil die Weskus veiliger maak

Kol. Lindie Marx (52), adjunk-klusterbevelvoerder van die Vredenburg-kluster, is gereed om misdaad in die Weskus aan te pak asook om ’n beter en veiliger omgewing vir die publiek te skep.

Dit is haar eerste ervaring as ’n adjunk-klusterbevelvoerder in die Weskus.

Sy is op 11 Maart aangestel.

Die polisie-kluster hou toesig oor tien polisiekantore in die Weskus, soos Hopefield, Porterville en Velddrif.

Die werk van ’n adjunk-klusterbevelvoerder is om die operasionele funksies van polisiekantore binne die kluster doeltreffend te bestuur.

Marx woon tans in Saldanha en het een dogter wat onderwys gee in Limpopo.

“Ek is gebore in Walvisbaai in Namibië, hoewel ek in die Weskus grootgeword het,” sê Marx.

Sy het aan die Hoërskool Middelburg gematrikuleer.

Marx verduidelik dat sy 34 jaar lank in die operasionele afdeling van die polisie gewerk het.

“Ek het in 1985 by die polisie aangesluit toe ek by die polisiekollege in Pretoria-Wes ingeskryf het.

“Daarna is ek geplaas by die Sunnyside-polisiekantoor, wat ook in Pretoria is, waar ek sewe jaar lank as skofbevelvoerder gewerk het.

“Ek het die afgelope 16 jaar as stasiebevelvoerder by verskillende polisiekantore gewerk, soos Tuinplaas, Hlogotlou en Bela-Bela in Limpopo.”

Sy was ook vir 15 jaar die hoof van misdaad, voorkomende dienste en sigbare polisiëring by Bela-Bela .

Hoewel Marx sê dat sy nie eintlik tyd het vir stokperdjies nie, is sy nog baie lief vir reis en is ook ’n diereliefhebber.

Sy vertel die polisie is haar passie en dat sy al ’n paar hoogte- en laagtepunte in haar loopbaan ervaar het.

“Elke sukses en verskil wat ons maak, is ’n hoogtepunt.”

Marx vertel een van die laagtepunte van haar loopbaan was toe ’n paar van haar kollegas aan diens gesterf het.

Sy sê gemeenskapspolisiëring is een van haar groot passies in haar werk.

“Die polisie kan nie alleen polisieer nie en ons benodig die ore en oë van die gemeenskap om suksesvol te wees en effektief te kan polisieer.”

Sy doen ook ’n beroep op die publiek om saam te werk met die polisie om ’n veiliger omgewing te skep en om ook betrokke te raak by veiligheids-inisiatiewe in die gemeenskap.

“My visie is om elke polisiekantoor in die kluster se gemeenskap veiliger te maak,” sê Marx.

“Ek beskou die Weskus as ’n nuwe uitdaging en hoop ek kan my ervaring gebruik om ’n verskil in die gemeenskap te maak.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.