Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mededeelsame hart bring vreugde

VREDENBURG – Meeste Vrydae geniet die buurt se kinders ’n gratis bord sop onder die afdak van Jackie Kannemeyer se voorstoep in Loeriestraat.

Oor Desembervakansies maak dié vrygewige Louwville-inwoner worsbroodjies, koop vir die kinders lekkers, en as haar geldsake dit toelaat, is daar ’n stukkie koek ook om te eet.

Jackie (55) se sopkombuis is al sedert 2014 ’n instelling.

“Ek verkies om vir kinders eerder as vir grootmense kos te gee, want kinders kan nie vir hulself sorg nie,” sê Jackie.

Tog sal sy nie ’n volwasse mens wat honger is, weier wanneer hy aan haar deur kom klop nie.

“Ek sal gee as ek het om te gee.” Haar oë glimlag elke keer as sy oor haar liefde vir “gee en uitdeel sonder voorbehoud” praat.

Sedert die nasionale inperking van stapel gestuur is, gee sy ook ’n bord kookkos aan ’n paar bejaardes.

“En die een oom is nogal nie te skaam om te sê waarvoor hulle lus het nie. Maar ek gee nie om nie, want ek geniet dit om mededeelsaam te wees.

“Ek maak graag geregte soos bobotie en pasta, maar soms vra die mense vir iets soos kool- en wortelbredie. Dan help die drilsersant hier in ons kombuis, my ma Babs, met hierdie meer tradisionele kosse. “Sy is al 81 jaar oud, maar geniet dit ook steeds om ander van hulp te wees,” vertel Jackie in ’n stemtoon wat getuig van deernis en respek vir haar bejaarde ma.

Soms as Jackie wonder waar die geld vir die volgende sop­kombuis vandaan gaan kom, word sy deur ’n vriend of ’n kennis ’n geldjie in die hand gestop, as finansiële bydrae tot die voortsetting van haar barmhartige dade.

Jackie se vrygewigheid het reeds twee jaar voor haar aflegging by Sea Harvest in 2016 begin. Sy het 30 jaar by die maatskappy gewerk en was die produksiebestuurder toe sy daar weg is.

In die tyd toe sy nog gewerk het, het sy die sopkombuis op Saterdae gehou, maar dit na Vrydae verskuif nadat sy haar werk verloor het.

En dis eers in haar werklose toestand dat sy werklik haar mededeelsame hart ontdek het.

“Toe ek by Sea Harvest weg is, het ek besluit om ’n vrywilliger by Siyabonga te word waar ek met kinders met gestremdhede sou werk.”

Jackie erken dat die eerste dag vir haar ’n “vreemde en vreesaanjaende ervaring” was omdat sy nog nooit vantevore werklik aan gestremdheid blootgestel was nie.

“Ek het daardie dag

gewon­der waarom die Here my daarnatoe gestuur het. Ek het die kinders bitter jammer gekry, maar ek wou net die dag verby kry en nie weer terug­gaan nie.”

Maar dit was Jackie se lot dat sy dag ná dag, vir die volgende vyf maande, na dié spesiale kinders sou terugkeer om hulle met omgee en prak­tiese hulp te dien. Sy het hulle onvoorwaardelik liefgekry en geleer om die spesiale mensies agter hul gebreke te sien.

Net op Vrydae was sy nie met Siyabonga se kinders besig nie, want Vrydae is haar sopkom­buisdag. En daarvoor maak sy nie ’n uitsondering nie. Jackie was later genood­saak om haar vrywillige werk by Siyabonga te staak, want haar seun het haar gevra om bedags na haar kleinkind om te sien terwyl sy ouers by die werk is.

“Dis darem net ’n ander liefde, daai ouma-liefde, nè? ’n Mens kan dit nie eintlik beskryf nie.” Haar skouers ruk effens van pure lekkerkry.

Die ervaring by Siyabonga staan vir haar uit as ’n gebeurtenis in haar lewe wat haar vir altyd verander het, wat vir haar ’n diepe dankbaarheid geleer het oor haar “goeie gesondheid en geseënde lewe”.

“Ek wil nie eintlik die fokus om my hê nie. Ek soek nie lof vir wat ek doen nie. Dalk kan ek nie die wêreld verander nie, maar ek weet ek kan vandag ’n verskil in iemand se dag maak. “Ek kan nie van Hom ontvang met ’n toe hand nie, so ek gee. En dit maak my gelukkig. Ek het alles wat ek nodig het en is heeltemal tevrede met die lewe wat ek het.”

Sy sê sy weet daar is ander mense wat ook lief is vir gee, vir die armes sorg en sopkom­buise het, maar sy besef ook dat mededeelsame harte in hierdie selfsugtige wêreld ver in die minderheid is.

Sy daag almal uit om vandag net bietjie meer van hulself aan iemand anders te gee. Sy sê ’n mens moet gee sonder om iets terug te verwag.

“Die beloning wat jy sal ontvang, is ’n gevoel van betekenis en vervulling wat min dinge in die lewe vir ’n mens kan bring.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.