Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Met plakkies van Gauteng na Langebaan

Die Weskus se eie kokkedoor is besig om die sowat 1 400 km van Vanderbijlpark tot by Langebaan te voet af te lê.

Die joviale Leroux van Vuuren het groot bekendheid in die eerste reeks van kykNet se werklikheids­program, Kokkedoor, verwerf en is die voormalige eienaar van ’n gewilde restaurant in Langebaan.

Van Vuuren het die afgelope tyd in Gauteng gewoon, maar trek nou na Langebaan terug om naby sy kinders te wees. Saterdag het hy van Vanderbijlpark begin stap. Sy eindbestemming is sy kinders, Ella en CJ. Van Vuuren is veral bekend vir die plakkies wat altyd aan sy voete te sien is. Hy is glad nie lief vir skoene nie.

Dáárom het hy dit goed gedink om ’n reeks, Kokkeroux-plakkies, te ontwerp. Hierdie plakkies teen R355 sluit afleweringskoste in en word ten bate van die Go Purple-liefdadigheidsorganisasie verkoop wat hoop, genesing en oorwinning teen geweld en verkragting bevorder. Van Vuuren loop ook self met hierdie plakkies – al die pad Langebaan toe.

Van Vuuren was verlede jaar in ’n ernstige motorongeluk waarin hy onder meer sy pelvis gebreek het. Hy was weke lank in traksie en het verskeie operasies ondergaan. Die herstelproses was lank, maar ná baie oefening en gereelde sessies met sy fisioterapeut kon Van Vuuren weer teen die be­gin van die jaar self loop. Sy reis na Langebaan is ook ’n dankbaarheidstog omdat hy weer kan loop en gesondheid wat hy teruggewen het.

Sommige gastehuise en barm­hartige samaritane wat Van Vuuren op sy lang pad sal teë­kom, het reeds aangedui dat hulle wil help of slaapplek gee wanneer die dapper stapper daar verbykom.

Die koskenner het reeds op dag drie sy eerste “spoedhob­bel” teëgekom. Maandagmid­dag, ongeveer 8 km voor Botha­ville, swel sy voete só dat die bande van die plakkies styf oor sy vel span. Iemand het hom apteek toe geneem en hy kon ongelukkig nie sy dag se beplande afstand voltooi nie.

Hy het oornag by die De Waal-gesin in Bothaville wat “mooi na my en my voete gekyk het,” vertel hy.

Dinsdagoggend het sy voete beter gevoel, maar hy was steeds nie gerus nie. “Gesondheid eerste!” het hy op sy Facebook-blad geskryf.

Hy het duim gegooi en ’n saamrygeleentheid op die skoolbus van Humansvlakte Primêr gekry waar hy die leerders vermaak het.

Van Vuuren sê hy het ’n mediese mening oor die oor­saak van die swelling ingewin en dit het glo gebeur omdat hy nie genoeg vloeistof ingeneem het nie. Hy het homself voorgeneem om nie weer dieselfde fout te begaan nie en sê hy sal sy voete mooi moet oppas as hy die staptog wil voltooi. Hy gaan sy staptog in 40 dae probeer voltooi.

Alle navrae vir die plakkies kan aan Estelle via WhatsApp gerig word by 082 873 6849.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.