Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Munisipale bestuurder sê hy ry nie dronk

’n Klag van bestuur onder die invloed word teen die bestuurder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, dr. Pierre Voges, ondersoek.

Die klag is aanhangig gemaak nadat hy Saterdagaand 5 Mei op die Vredenburg-Saldanhapad deur provinsiale verkeersbeamptes voorgekeer is en een van sy voertuig se agterligte nie gewerk het nie.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het bevestig dat ’n man (56) op 5 Mei skuins ná 21:00 in hegtenis geneem is nadat hy voorgekeer en gevra is om in die Drager-toestel te blaas. Dié toestel kan aandui hoeveel alkohol ingeneem is. ’n Lesing van minder is 0,24 mg per 1 000 ml is toelaatbaar.

Volgens verskeie betroubare bronne was Voges se lesing drie keer hoër. Hy is in hegtenis geneem en het in die polisieselle oornag voordat hy die volgende oggend vrygelaat is.

Voges sê hy is onskuldig en is ongelukkig oor die hantering van die aangeleentheid deur die owerhede.

Michael Ebersöhn, Voges se regsverteenwoordiger, het in ’n skrywe aan Weslander gesê sy kliënt erken dat hy Saterdagaand voorgekeer is omdat een van die agterligte van sy voertuig buite werking was.

Ebersöhn sê sy kliënt ontken dat sy bloedalkoholvlak die voorgeskrewe perk oorskry het, soos beweer word.

Volgens Ebersöhn is die blaastoetslesing nie aan Voges getoon nie en aangesien die ondersoek nog nie afgehandel is nie, het hulle nie insae in die inhoud van die dossier nie.

“Ons weet dus nie of die perk oorskry is nie. Indien wel, ontken ons kliënt dit, of alternatiewelik dat die apparaat behoorlik gefunksioneer het,” het hy verduidelik.

Die dossier moet nog aan die staatsaanklaer voorgelê word om te besluit of die klag meriete het en of Voges vervolg sal word.

Ebersöhn sê moontlike regsaksies kan uit die owerheid se hantering van die aangeleentheid volg. Hy is in hierdie stadium nie by magte om daaroor uit te brei nie.

In ’n skrywe aan Weslander het Voges gesê hy is bekommerd, want dit neem baie lank om ’n goeie reputasie op te bou en net oomblikke om dit te vernietig.

In sy skrywe vertel Voges dat hy die hele Saterdag baie hard in George Kerridge gewerk het waar onluste oor behuising handuit geruk het. Hy sê hy het teen 18:00 met die gemeenskap oor hul griewe gepraat en daarna ’n ete in George Kerridge-Suid geniet voordat hy in sy ou, gerestoureerde Volvo huiswaarts gekeer het. Hy is weens die stukkende lig voorgekeer. Voges en Ebersöhn wil dit duidelik stel dat hy nie weens roekelose bestuur afgetrek is nie.

Voges verskyn 8 Augustus in die Vredenburg-hof op aanklag van bestuur onder die invloed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.