Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
’n Stem uit die graf – min geregtigheid vir slagoffers

’n Moordslagoffer se stem word vir altyd stilgemaak wanneer die moordenaar ’n lewe neem. Die oorledene kan nie self uit die graf die skuldige uitwys nie.

Oor die jare het verskeie opspraak­wekkende moorde die Weskus geruk en die mense laat praat. Die moorde en die slagoffers is ’n ruk lank in die mediakollig en dan koel almal af en vergeet.

Die stem uit die graf is ’n gereelde insetsel in Weslander om moord­slagoffers te onthou en weer aan hulle ’n stem te gee. In sommige sake het geregtigheid geskied en is die skuldiges gestraf, maar ander sake het bloot doodgeloop of sloer nog. Die moordenaars loop tussen ons rond.

Jong vrou se aanvaller kom met moord weg

Wie het Mathilda Lupen vermoor? Sowat ’n jaar gelede op Jeugdag het iemand naby die dammetjie by George Kerridge (Vredenburg) verbygestap en ’n jong vrou se lyk naby die oewer ontdek. Sy is gevind met ’n stuk draad om haar nek. Haar oë was toegeswel soos sy geslaan is.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, sê die vrou is as “Telie” Mathilda Lupen uitgeken.

Die nadoodse ondersoek het getoon dat sy verkrag is voor sy vermoor is. Volgens Helfrich is daar nog niemand vir die moord in hegtenis gemeen nie en daar is ook geen nuwe leidrade om op te volg nie.

Niemand verantwoordelik gehou vir ‘vriendelike oom Paul’ se ontydige dood

“Vriendelike oom” Derick Paul Coetzee (55) is in Februarie vanjaar noodlottig met ’n mes by sy huis in Louwville, Vredenburg, in die nek gesteek.

Daardie tragiese aand het Coetzee glo die man betrap wat in sy huis ingekom en sy geheuestokkie gegaps het. Sy dogter, Janine Bruintjies, het aan die Weslander vertel haar pa het die dief “pak slae gegee”.

Die vermeende dief het daarna gevlug, maar glo weer teruggekeer met ’n mes, waarna hy Coetzee daarmee in die nek gesteek het. Coetzee het later in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal beswyk. ’n Man bekend aan die gesin wat in ’n naburige straat woon, is vir die moord in hegtenis geneem, maar volgens die polisie is die klag teen hom op 31 Maart teruggetrek.

Ouers van verbrande pasgebore baba steeds soek

Die lykie van ’n pasgebore babameisie – toegedraai in koerantpapier – is op 23 April 2017 by Laingville se strand ontdek. ’n Inwoner het in die see geswem en die baba in die water gesien dryf.

Die lykskouing het getoon dat die babameisie wel lewend gebore is. Sy was in koerantpapier toegedraai en die pakkie is met kleeflint toegeplak. Iemand het probeer om haar te verbrand terwyl sy in die papier was en het haar toe in die see gegooi.

Kapt. Helfrich het vandeesweek aan Weslander gesê niemand is tot dusver vir die moord op die pasgebore baba in hegtenis geneem nie, ook het niemand na vore gekom met inligting oor die identiteit van die ouer(s) nie. Met amper geen leidrade, is die oorspronklike moordondersoek verander na ’n geregtelike doodsondersoek aangesien niemand met die dood van die baba verbind kon word nie.

Die saakdossier is egter by die hof vir ’n beslissing of dit weer na ’n moordondersoek verander moet word.

Geen geregtigheid vir Patrick Buttress

Daar is nog niemand aangekla van die moord op Patrick Gilbert Buttress nie.

Buttress se lyk is onder verdagte omstandighede Woensdag 25 Januarie 2017 by sy woning in Udamstraat, Diazville, gevind. Hy was met lappe bedek.

Soektog na maatskaplike hulpwerker se moordenaar is ’n doodloopstraat

Eldrith Aunchen Don (31), ’n maatskaplike hulpwerker en ma van ’n jong dogter, is op 25 November 2016 in Laingville, St. Helenabaai, verwurg.

Dit was die dag wat die bewusmakings­veldtog, Sestien Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders, landwyd begin het.

Inwoners het Saterdagoggend 26 November op haar halfnaakte lyk tussen twee rye identiese huisies in Duikerstraat afgekom.

Hierdie saak staan ook stil aangesien daar geen nuwe inligting is om op te volg nie. Niemand is tot dusver vir haar moord in hegtenis geneem nie.

Oorskot van vrou steeds nie geïdentifiseer

Wie was die fyngeboude vrou met die kopdoek wie se erg ontbinde lyk 18 Januarie 2017 buite Vredenburg, naby die Weskus Mall, gevind is? Die lyk is deur skoonmakers in ’n sloot op die middelman tussen die twee bane van die Vredenburg-Saldanhapad ontdek. ’n Spesiale nadoodse ondersoek het ge­toon dat sy al maande dood was teen die tyd dat sy langs die pad gevind is.

Hoe is sy dood? Was daar misdaad by betrokke? Is daar geliefdes wat oor haar treur en waarom soek hulle nie na haar nie? Het sy langs die pad ge­sterf of dalk elders waarna iemand haar op die middelman kom “weggooi” het?

Hierdie vrae is ’n jaar en ’n half ná die ontdekking van die vrou se oorskot steeds onbeantwoord.

Die ondersoekbeampte het min inligting tot sy beskikking gehad en het selfs die vrou se vuilgesmeerde sweetpakbroek en haar kopdoek verlede jaar in die Weslander gepubliseer met die hoop dat iemand wat haar ken na vore sal kom, maar dit was tevergeefs. Volgens kapt. Helfrich is die geregtelike doodsondersoek reeds afgesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.