Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Niemand mag kamp op Trekoskraal nie

Weskussers én Kapenaars se sorgvrye kostelose kampdae op Trekoskraal is finaal getel.

Trekoskraal, ’n kusplaas naby Paternoster, was vir vele Weskussers ’n gewilde kampeerplek vir dekades, maar die afgelope paar jaar word kampering nie meer toegelaat nie.

Soos Weslander al voorheen berig het, was dit omdat sommige kampeerders die plek bemors gelaat het en met hul viertrekvoertuie onwettig oor die duine gery het. ’n Paar jaar terug is kampeerders se strukture, soos windheinings, selfs verwyder, maar dit het weer opgeskiet.

Die afgelope Desember was die plek glo weer toegepak en ’n nagmerrie soos mense dit bemors het. Volgens inwoners van die aangrensende Nieuwe Rust was baie Kaapse motors daar nadat op sosiale media geadverteer is dat mense gratis by Trekoskraal kan kampeer.

Vandeesweek, aldus ’n kennisgewing op sosiale media versprei, glo uitgereik deur die departement van openbare werke, is Trekoskraal nou in hul besit en word kampering onder meer heeltemal verbied.

By navraag is bevestig die ‘besit’ verwys na die sogenaamde admiraliteitsone, ’n strook (afwisselend in breedte) tussen die hoogwatermerk en die privaatgrond. Die eiendom self is steeds in besit van Houtfield Cattle Ranch Bpk. en Rancho El Paraiso, maatskappye binne die Wiehahn International Holdings-groep, wat die eiendom sedert die middel 90’s besit.

Daar is egter nie duidelike skeidslyne tussen die grondgebiede nie en mense kampeer soms bo-op privaat én staatsgrond.

“Grenslyne in die sand moet getrek word en daar moet orde kom,” sê Jacques Pauw, Wiehahn International Holdings se projekbestuurder op Trekoskraal.

Kampeerdae, ongeag kampeerders se gedrag, is in elk geval binnekort getel. Pauw het bevestig “die amptelike standpunt van die eienaars is dat die aktiwiteite waarna in die ‘kennisgewing’ verwys word o.a. oornag kampering, ander tydelike verblyf- en/of permanente strukture asook voertuig toegang op en tot die privaat gronde ook nie toegelaat word nie en dat die grondeienaars in samewerking met Saldanhabaai-munisipaliteit, departemente openbare werke, visserye en omgewingsake en ander belanghebbendes tans besig is om beheermaatreëls in plek te stel om die voorgenoemde partye se regte en verantwoordelikhede te beskerm”.

Hy het ook bevestig hul planne om die meer as 15 000 ha grond te ontwikkel gaan voort, maar inaggenome die besware verlede jaar ontvang, word die planne tans aangepas.

Heinings is sover nie aangebring nie, maar die sekuriteit van die eiendom sal opgeskerp word sodra die ontwikkelingsplanne deur die raad goedgekeur is, wat hulle hoop voor die einde van die jaar sal wees.

Intussen het sommige op sosiale media geskryf, kom wat wil, hulle kamp Paasnaweek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.