Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Niks kan dit regverdig nie’

“Hulle het op sy kop getrap, hom verwurg en hom aan sy voete uit die aanklagkantoor gesleep.”

Só sê Jessica Heyns, die suster van Jason Heyns (25) wat op 1 November dood is nadat hy op 23 Oktober glo gewelddadig deur die polisie in Witteklip, Vredenburg, aangerand is.

“Jason was al ’n paar keer toegesluit. Hy het sy foute gehad, maar niks wat hy gedoen het, regverdig die wrede manier waarop hy gesterf het nie,” reken Jessica.

Volgens Jessica het Jason die oggend van 23 Oktober vir die polisie weggehardloop toe hulle hom weer in hegtenis wou neem.

“Ek weet nie regtig vir watter saak hulle hom gesoek het nie,” sê sy.

Die polisielede het hom uiteindelik gevang en Jason het homself teëgesit toe hulle hom in die polisievoertuig wou laai.

Jessica sê ’n struweling het ontstaan en sy beweer die polisiebeamptes het hom erg aangerand voordat hy uiteindelik na die Vredenburg-polisiekantoor geneem is. Volgens haar is Jason onder meer gewurg, sy kop is teen ’n muur geslaan en een van die polisielede het glo op sy kop gestaan toe hy op die sypaadjie geval het. Sy arm is ook na bewering gebreek terwyl hy homself verset het om geboei te word.

’n Skare mense het om Jason en die polisielede, glo speurders, saamgedrom om die petalje te aanskou en iemand het die beweerde aanranding op kamera vasgevang.

Die voorval het volgens Jessica tussen 10:30 en 11:30 gebeur. Sy het vertel dat Jason daarna na die aanklagkantoor geneem is, waar hy glo verder aangerand is.

“Die ander ouens wat saam met hom in hegtenis geneem is, het vertel bloed het uit Jason se neus en mond gestroom. Hy het stuiptrekkings in die aanklagkantoor gekry en sy oë het omgedop, maar steeds is hy half bewusteloos met geboeide enkels en hande aan sy voete uit die kantoor gesleep,” vertel sy bedroefde suster.

Jason is glo na Saldanha se polisieselle geneem aangesien Vredenburg se selle tans nie gebruik word nie.

“Hy is eers teen 18:00 hospitaal toe geneem nadat iemand gesien het Jason beweeg glad nie. Ek glo hy was reeds in ’n koma.”

Volgens Jessica is Jason van die Vredenburg- provinsiale hospitaal na die hoësorgeenheid van die Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas waar hy aan sy beserings beswyk het. “Die hospitaal het ons op 1 November laat weet dat Jason gesterf het,” sê sy.

Jessica sê die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het hulle intussen by hul huis besoek om verklarings af te neem.

Die Vredenburg-polisie het bevestig dat die saak deur Opod ondersoek word.

Jason sal Saterdag 14 November in die sentrale begraafplaas ter ruste gelê word.

Vriende en familie sal om 09:00 by Kwartelstraat 4 bymekaarkom waarna die roudiens om 10:00 by die kerk in dieselfde straat plaasvind. Daarna sal die geselskap na die begraafplaas verdaag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.