’n Jong man met ’n plan – dít is Wildeno Saul.
Buiten die uitdaging van Covid-19 moes dié Laingviller (19) ook onluste in sy buurt verduur.
“Dit was baie moeilik. Alles wat aangegaan het, was stresvol. Op die oggend wat ek my eerste vraestel, Engels, moes skryf, het die polisie by die huis opgeruk. Dit was 03:00 en daarna kon ek glad nie slaap nie.” Hy het toe dié tyd begin gebruik om met sy boeke te sit. Met sy goeie uitslae van HS Vredenburg het Wildeno die eerste matrikulant in sy gesin geword. Nou is hy op pad na Kaapstad om regte te gaan studeer – ’n pad wat hy glo sy oorlede ma trots op sou wees.
“In Laingville is daar ’n sêding –‘almal gaan fabriek toe’. Ek wou nie fabriek toe nie. My ma en haar suster het so baie vir my gedoen terwyl hulle geleef het. Hulle het uit hul pad gegaan vir my. Dit was nie maklik om my by die HS Vredenburg te kry nie – die kostes, die busgeld, die kampe . . .”
Hy en sy sibbe woon nou by sy oom, ’n visserman en moet hy ook ekstra verantwoordelikhede in die huis dra. Wildeno meen dis sy plig om ook sy sibbe aan te spoor.