SA Rugby sê hy gee sy volle samewerking in die ondersoek teen die Springbok Eben Etzebeth (27) nadat ’n klag van aanranding teen dié rugbyspeler aanhangig gemaak is.
Die nasionale vervolgingsgesag en die Menseregtekommissie stel ondersoek na Etzebeth in nadat ’n klag teen hom ingedien is.
Dit volg nadat Etzebeth en ’n groep van 12 tot 15 vriende verlede maand in Langebaan gekuier het. Die groep was vermoedelik eers by die seiljagklub en later by Die Watergat. Twee mans is na bewering Saterdagaand in ’n parkeerterrein naby die kuierplek aangerand en deur Etzebeth en sy gevolg glo die woord “h*tn*t” toegesnou.
Ná die voorval het die Die Khoisan Defiance Campaign ’n klag van rassisme by die Menseregtekommissie in gedien. Sammy Claassen, woordvoerder van die organisasie, het vandeesweek gesê ’n vergadering met die Kommissie, SA Rugby en dié organisasie sal Vrydag 20 September plaasvind.
Claassen meen Eben Etzebeth, sy broer Emile Etzebeth en hul vriende met gedagvaar word om voor die Kommissie te verskyn.
“Ons gaan ook ’n klag by die polisie-waghond Opod indien om die mediaverklaring van Etzebeth, waarin hy beweer het dat Langebaan-polisie hom verseker dat hy van alle strafregtelike klagte teen hom vrygespreek is, ondersoek word,” lui ’n verklaring deur die Khoisan Defiance Campaign.
Volgens Peter de Villers, voormalige Springbok-afrigter, het SA Rugby die voorval baie ligtelik opgeneem en ’n interne ondersoek sou die regte besluit gewees het terwyl die speler geskors word totdat sy naam in ere herstel is.
Op sy beurt ontken Etzebeth aantygings van rassisme.
Hy het ná die voorval in Augustus op sosiale media verklaar die aantygings teen hom is “heeltemal onwaar en ongegrond”. Die rugbybase sê voorts hulle sal die uitkoms van die ondersoek respekteer en gehoor gee aan die besluite.
Volgens Nigel Sameuls, die regsverteenwoordiger van die slagoffers, is die dossier steeds by die direkteur van openbare vervolging vir ’n beslissing.