Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ondersoek na kind se skietdood byna voltooi

“Ons verwag inhegtenisnemings. Die gemeenskap wil niks anders hoor nie.”

Só sê Thyrone Williams, gemeenskapsleier van Laingville in St. Helenabaai, in die lig van die ondersoek na Leo Williams (9) se tragiese skietdood in 2020. Die ondersoek staan nou einde se kant toe.

Weslander het voorheen berig dat dié kind tydens betogings wat in Julie verlede jaar ses dae geduur het, raakgeskiet is terwyl hy in sy oom se woning gesit en televisie gekyk het. Leo is deur ’n dwaalkoeël getref wat na bewering deur ’n polisiebeampte afgevuur is.

Thyrone het Dinsdag aan Weslander verduidelik dat die Laingville-gemeenskap met die verloop van tyd toenemend meer ontevrede geraak het omdat hulle nie vordering met betrekking tot die saak gesien het nie.

“Maar nou is hulle kalm, want daar is lig aan die einde van die tonnel,” het Thyrone gesê.

Hy het verduidelik dat Shawn Brown, wat Leo se saak by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) hanteer, vir drie maande met siekteverlof was weens die feit dat hy Covid-19 gehad het.

“Dis waarom die saak so gesloer het,” het Thyrone gesê.

Brown het aan Thyrone vertel dat die oorspronklike ondersoek reeds in Desember 2020 afgehandel is, maar dat die advokate sekere punte uitgewys het wat eers aangepak en gefinaliseer moes word.

Brown het egter in hierdie tyd siek geword en is maar onlangs eers weer terug werk toe om aandag aan die ondersoek te gee.

Die 40 lede van die openbare-orde-polisiëring (Pops) wat verlede jaar tydens die skietvoorval in St. Helenabaai was, het verlede Dinsdag (30 Maart) weer die dorp besoek “om duidelikheid te kry oor wat gebeur het, ten opsigte van vier lede wat glo hier ter sprake was”, het Thyrone verduidelik.

Volgens Thyrone, wat al by verskeie geleenthede die gemeenskap se gemoedere moes help kalmeer om geweld en oproerigheid te voorkom, was die mense op hul gemak Dinsdag toe Pops die dorp besoek het. “Die mense het Pops eintlik vriendelik hier verwelkom, want ek glo dis omdat hulle vordering met die saak sien.”

Volgens Brown sal die ondersoek nog sowat ’n week duur voordat dit heeltemal afgehandel is.

Dit gaan “orraait met ons onder omstandighede” volgens Cathy Thomas, Leo se pleegma wat hom al van geboorte af grootmaak. Thyrone het ook aangedui Thomas se eis teen die minister van polisie (Bheki Cele) is in ’n gevorderde stadium. Hy sê die gemeenskap wil egter sien dat iemand spoedig in hegtenis geneem word. “Ek staan die familie met die eis by. Die hofstukke is reeds by die hooggeregshof,” het Thyrone gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.