Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ons het dood in die oë gekyk’

Irene Pieters (36) het benoud na haar asem gesnak en haar liggaam het verbete weens stuiptrekkings begin ruk.

Dit was op daardie vreesaanjaende oomblik dat pastoor Gereldo Pieters (32) van Louwville in Vredenburg besef het sy grootste vrees het waar geword – sy vrou is met die koronavirus besmet terwyl sy hom, wat eerste die Covid 19-virussiekte ontwikkel het, versorg het.

beVrees om alleen in hospitaal te sterf

Gereldo wou Irene dadelik na die hospitaal neem, maar sy het geweier. “Sy wou nie alleen met ’n doodsvrees en sonder haar mense in die hospitaal gaan lê en nie weet of sy hulle weer gaan sien nie,” vertel Gereldo.

Irene, wat by die plaaslike kantoor van die departement van onderwys werk, was uiteindelik so swak dat sy nie kon loop nie. Wanneer sy wel met hulp toilet toe moes gaan, het sy geweldige pyn gehad en was sy onvas op haar voete, kortasem en het gebukkend “soos ’n ou vrou” geloop.

Haar voete was een aand yskoud en Gereldo het haar met komberse toegemaak en warm drinkgoed aangedra. Maar niks wou werk nie.

“Ek was benoud, want ek het die dood in my vrou gesien,” sê Gereldo.

Skuldgevoel oor besmetting

Sy skoonma (61), wat ’n diabeet is, het ook aangesteek en geweldig siek geword. Gereldo en Irene se 15-jarige tienerseun het nooit Covid-19-simptome ervaar nie.

“Ek het gevoel dis my skuld dat hulle siek geword het, want ek het hulle aangesteek. Ons het nie genoeg afstand van mekaar in die huis gehou nie,” erken Gereldo.

Hy sê hy voel darem nie meer sleg daaroor nie, maar wil mense wat die virus opdoen, aanraai om alles in hul vermoë te doen om nie hul geliefdes wat in dieselfde huis woon, aan te steek nie.

“Bly in ’n aparte kamer en badkamer weg van jou gesin af. Gebruik jou eie beddegoed, handdoeke en eetgerei.”

Visioen van oorlede ouma

Gereldo was eerste siek en erken hy het ook ’n paar “benoude oomblikke” beleef. Al sy spiere en gewrigte het ontsettend gepyn en daar was ’n swarigheid op sy bors, asof iets op sy borskas sit en al die lug uit sy longe pers.

“Daar was tye dat ek nie seker was of ek die siekte gaan oorleef nie. Ek het die dood in die oë gekyk en selfs ’n visioen van my oorlede ouma gehad wat my regtig laat dink het my tyd is naby. Maar deur gebed en geloof is ons al drie sedertdien heeltemal genees. Ons loof Jesus dat hy ons al drie weer gesond gemaak het.”

Gereldo sê hul Covid-19-vuurdoop het by sy werksplek by die departement van arbeid se kantoor in Vredenburg begin.

“Hoewel ons alle voorsorg by die werk getref het om te verhoed dat ons besmet word, het ek steeds by iemand aangesteek. Daar is steeds die onvermydelike hantering van papierwerk tussen ons en die publiek.”

Geen bestaande siektes, maar wel sieker

Gereldo het op 3 Julie simptome van die Covid-19-virrussiekte begin ervaar – kopseer, lyfseer en ’n verlies aan smaak en reuk – en het op 6 Julie gehoor dat sy toets vir die virus positief was. Irene en sy skoonma het teen 8 Julie begin siek word.

Gereldo, wat aan hoë bloeddruk ly, sê hy is verbaas dat sy vrou, wat geen onderliggende siektes het nie, heelwat sieker as hy geword het aangesien die slimmes reken mense wat aan diabetes, hipertensie, obesiteit, asma, long- en niersiektes ly, ’n hoër risiko het om ernstig siek te word.

Laat staan die stigma

Irene kan getuig van die stigma wat aan die siekte kleef en erken dat skinderstories wat hulle agterna oor hulself gehoor het, “seer maak”.

Tog het sy begrip dat hierdie mense eerder uit onkunde en vrees geskinder het, en sy neem hulle nie kwalik nie.

“Dis nie nodig om mense wat positief getoets is, te vermy as hulle gesond geword het nie. Wees bedagsaam en respekteer mense se privaatheid en gevoelens. Help waar jy kan,” stel Irene voor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.