Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oom se perde trek nog ’n óú snyer

Piet Lourens van Porterville laat die koppe draai wanneer hy vir sy perde voer met ’n antieke landbou-implement oes.

Lizelle Wentzel, voorsitter van Porterville-toerisme, het verlede week ’n paar foto’s van Piet (58) geneem waar hy op die snyer sit wat deur twee perde getrek word, terwyl dit gars en hawer wat op dorpserwe vir die perde geplant is, met ’n groot lawaai oes.

“So iets aanskou jy nie sommer in vandag se tyd nie, maar as jy gelukkig is, sien jy dit wel in Porterville,” het Lizelle by haar plasing van die foto’s op Porterville-toerisme se Facebookblad geskryf.

Volgens die “interessante Oom Piet”, wat baie lief is vir oudhede, is die antieke snyer minstens 70 jaar oud.

“Ek het die implement by Braam van Zyl wat by die koöperasie gewerk het, gekoop en Krige Liebenberg het dit vir my mooi reggemaak,” vertel hy.

Oom Piet is al as kind deur sy pa aan hierdie antieke snyer bekend gestel, wat hom gewys het hoe dit werk. En daarom het hy die implement met groot opgewondenheid laat restoureer toe hy verlede jaar bevoorreg genoeg was om een van hierdie snyers weer in die hande te kry.

Hy sê die perde was aan die begin bang vir die snyer omdat dit so raas wanneer die wiele draai en die lemme die snywerk doen.

“Hulle is darem nou gewoond aan die geluid,” het hy gesê.

Oom Piet het vier jaar gelede afgetree nadat hy dekades lank in die gevangenisdiens gewerk het.

Hy het tussen perde grootgeword en is ’n bekende perde-afrigter by die dorp se skouterrein waar hy nou 18 Vlaamperde en Friesperde afrig.

Ses van hierdie perde is sy eiendom.

Dié stokperdjie en groot passie wat hy al van kleintyd af beoefen, het sowat vier jaar gelede ’n leefstyl geword.

“Nou doen ek voltyds waarvoor ek lief is,” vertel hy ingenome.

Nie net is Porterville se “Oom Piet” bekend vir die afrigting van perde nie, maar ook vir sy perdekarre en koetse wat hy vir spoggeleenthede en troues verhuur.

Oom Piet vertel met groot trots sy diens is baie gewild en hy het al talle bekendes met sy koetse rondgery. Een van sy persoonlike hoogtepunte was om sy diens aan Rolene Strauss, ’n voormalige Mejuffrou Suid-Afrika en Mejuffrou Wêreld, en haar man, D’Neil, op hul troudag in 2016 te bied.

Dié troue is deur die glans-joernaalprogram Top Billing as die troue van die jaar bestempel.

Die grendeltyd het troues en groot samekomste verbied en Oom Piet sê hy het hom maar besig gehou met afrigting, maar nou slyp hy sy tande vir ’n “lekker besige trouseisoen”.

Besoek Piet Lourens se Facebookblad, Sassu horse and carriage hire vir nog inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.