Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Oorlewing troef bewaring’

April is internasionale Aardemaand.

In hierdie maand word die nasies van die wêreld herinner aan hul gesamentlike verantwoordelikheid om ’n balans te vind tussen ekonomiese, maatskaplike en omgewingsbehoeftes.

Dit erken ook die Verenigde Nasies se Rio-verklaring, wat in 1992 in Rio de Janeiro afgelê is. Die verklaring is ’n pleidooi aan die wêreld om harmonie met die natuur en die aarde te bevorder.

Die Suid-Afrikaanse regering erken ook dié fokusmaand en ’n toegewyde Aardedag op 22 April.

Die nasionale regering hou in ’n persverklaring, wat vir dié doel opgestel is, klimaatsverandering voor as een van die grootste uitdagings vir die toekoms van die mensdom en die lewensondersteunende stelsels wat die aarde bewoonbaar maak.

Volgens kenners word klimaatsverandering grootliks beïnvloed deur menslike aktiwiteite en ontwikkeling.

nywerheid versus omgewing

Plaaslik woed ’n gedurige toutrekkery tussen nywerheidsontwikkeling, wat die ekonomie bevorder, en werkskepping in ’n gebied waar die werkloosheidsyfer baie hoog is, in teenstelling met die bewaring van die unieke Weskus se natuurlike erfenis.

Alanis Obomsawin, ’n Amerikaans-Kanadese kunstenaar, aktivis en dokumentêre filmmaker, het destyds ’n diepgaande stelling gemaak wat sedertdien wêreldwyd ’n bekende aanhaling geword het:

“Dis eers as die laaste boom afgekap is, die laaste vis gevang en die laaste stroom vergiftig is dat ons sal besef ons kan nie geld eet nie,” het sy gesê.

Hierdie stelling is gewis vir baie Weskussers iets om te bedink in die konteks van luggehalte, kwynende visbronne weens oorbevissing, asook sensitiewe en bewaarde akwifers, riviermondings, vleilande en ekostelsels wat deur ontwikkeling bedreig word.

oorlewing troef bewaring

Gemeet aan talle berigte wat Weslander die afgelope tien jaar oor die gebied se uitdagings geskryf het, is dit duidelik dat omgewingsbewaring nie ’n groot prioriteit is in gemeenskappe waar ’n hoë werkloosheidsyfer, grootskaalse armoede, erge behuisingsnood en hongerte aan die orde van die dag is nie.

Johannes Hermanus Bosch het in sy Universiteit Stellenbosch-tesis oor omgewingsbewustheid met ontwikkeling gesê die mens se begeerte om te oorleef, troef die begeerte om die omgewing vir toekomstige geslagte te bewaar.

’n Deel uit die tesis lui as volg: “In talle laekoste-behuisingontwikkelings in Suid-Afrika is ’n algemeen waarneembare verskynsel die afhanklikheid van die natuurlike omgewing en die oorbenutting van hulpbronne. Baie arm landelike en stedelike gemeenskappe het nie die geleentheid om oor hierdie oorbenutting na te dink nie, aangesien hul eerste prioriteit dié van oorlewing is.”

Volgens ’n maatskaplike ekonomiese profiel wat deur die Wes-Kaapse regering in 2019 vir die Saldanhabaai-munisipaliteit geskep is, voltooi net 67,7% van leerders hul skool-loopbaan.

Die meerderheid van die werksmag in die munisipale gebied op daardie tydstip (2017) was halfopgeleide werkers teen 41,3% en slegs 18,1% van die werksmag was ten volle opgelei.

Volgens hierdie profiel het die munisipale gebied se werkloosheidsyfer sedert 2015 skerp geklim en 15,7% in 2018 bereik. Die syfer is opmerklik hoër as die 10,7%-gemiddelde van die distrik, terwyl dit laer as die provinsie se 17,7% gemiddelde was.

Landbou, bosbou, visserye en mynbedrywighede in die munisipale gebied het in 2017 tot 36,4% van die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra. Vervaardiging, konstruksie, elektrisiteit, water en gas het 13,9% bygedra, terwyl groothandel, kleinhandel, spyseniering en akkommodasie (toerisme) tot 16,4% van die BBP bygedra het.

ontwikkeling bedreig toerisme

Die Weskus se natuurskoon en landelikheid is ’n groot trekpleister vir besoekers, en die plaaslike toerismesektor vrees al dekades toenemende nywerheidsontwikkeling wat die unieke karakter en sjarme van die gebied bedreig. Die skerp kontras tussen die toerisme- en omgewingsgeoriënteerde suidelike deel van Saldanhabaai (Langebaan) en die nywerheidsgeoriënteerde noorde, wat die vinnige uitbreiding van die hawe en die Saldanhabaai-nywerheidsontwikkelingsone insluit, is opmerklik.

Weslander berig deurlopend oor “Save Langebaan Lagoon”, wat tereg bekommerd is oor die regering se beplande grootskaalse akwakultuurontwikkeling in Saldanhabaai en die impak wat dit op die plaaslike toerismesektor en die omgewing kan hê.

Groen-kampvegters se oorlog teen die ontwikkeling van ’n vooraanstaande waterkant-woonbuurt in Shark Bay, in ’n buffer-sone van ’n ekologies-sensitiewe gebied teen die Langebaan-strandmeer, het meer as tien jaar geduur, in die hooggeregshof gedraai en is uiteindelik verloor. Talle bekommerde bronne wat in die verlede met Weslander gepraat het, is daarvan oortuig dat die regering net geld jag – ten koste van die omgewing.

Die Kropz Elandsfontein-fosfaatmyn by Hopefield is weer sedert sy ontstaan deur die West Coast Environmental Protection Association teëgestaan, oor sy watergebruikbehoeftes en die feit dat die myn glo ’n bedreiging vir ’n sensitiewe akwifer wat die Langebaan-strandmeer voed, kan wees.

Dié myn se waterlisensie is in 2015 toegestaan, maar ná ’n terugslag in 2017 was die myn genoodsaak om sy deure te sluit. Die West Coast Environmental Protection Assosiation het teen die toekenning van die myn se waterlisensie geappelleer en volgens Martin Carstens, die myn se nakomingsbestuurder, sal uitsluitsel oor die uitspraak hiervan hopelik teen Mei bekend gemaak word.

Die myn beoog om sy deure weer in die laaste kwartaal van 2021 te open, wat volgens Kropz 450 tot 500 nuwe poste sal beteken, asook duisende nuwe indirekte werksgeleenthede.

Dit is welkome nuus vir die Weskus se ekonomie wat in 2020 dubbel hard deur die ArcelorMittal Saldanha-staalaanleg se sluiting en die finansiële insinking wat deur die Covid-19-wêreld-pandemie veroorsaak is, getref is.

Werkloos­heid het verder die hoogte in geskiet en arm mense het armer geword.

Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, het in 2018 in ’n onderhoud aan Weslander gesê inwoners van die Saldanhabaai- munisipale gebied moet onthou dat die toerismesektor ook deur misdaad geraak word.

So, terwyl nywerheidsontwikkeling toerisme bedreig, reken Winde dat werkloosheid en armoede ’n groter bedreiging is, omdat dit tot ’n hoër misdaadsyfer lei, wat besoekers ontmoedig om na die gebied te kom.

volhoubare oplossing

Die koerant het voorheen al talle klagtes oor lugbesoedeling in die omgewing ontvang. Transnet se ysterertsstof-besoedeling is ’n probleem wat inwoners toenemend irriteer.

Ysterertsstof-besoedeling het sedert die voltooiing van die Sishen-Saldanha-spoorlyn in 1976 ’n groot probleem in die Vredenburg- en Saldanha-omgewing geword. In die beginjare was die deurset by die Saldanhahawe van ystererts wat van die Sishen-myne af gebring is, sowat 18 miljoen ton per jaar. Deesdae is dit 60 miljoen ton per jaar.

Die vuil dynserigheid wat soms om die ArcelorMittal-staalaanleg gehang het, het al heelwat inwoners na sosiale media gedryf om daar hul misnoeë uit te spreek.

Die stank van vismeel wat eie is aan visfabrieke van St. Helenabaai, Velddrif en Saldanha, is ’n grief wat keer op keer opduik.

Maar ander inwoners wat van die visbedryf afhanklik is, sê weer die onaangename geurtjie is “die reuk van geld”.

Hierdie klagtes het sommige mense die indruk gegee dat omgewingsbewuste organisasies poog om fabrieke en nywerhede te laat “toemaak”.

Net een voorbeeld hiervan is ’n bekommerde sekerheidswag van die Amawandle-visfabriek in Laaiplek, wat Weslander in 2017 gevra het of hy sy werk gaan verloor toe ’n vergadering oor luggehalte by die fabriek gehou is.

Dit was nadat talle klagtes oor die stink visreuk uit die gemeenskap ontvang is.

Wilhelm Herbst, die voorsitter van die nuut gestigte Saldanha Bay Clean Air Association (SBCAA), ’n waghond vir die gebied se luggehalte, het in ’n vorige onderhoud aan Weslander gesê dié organisasie, asook die Saldanha Bay Water Quality Forum Trust (SBWQFT) wat weer die baai se watergehalte deurlopend monitor, wil nie ontwikkeling teenstaan nie. Hulle poog ook nie om fabrieke “te laat toemaak” nie.

Hy sê ontwikkeling is onvermydelik, maar moet volhoubaar gedoen word. Die nywerhede wat die meeste lug- en waterbesoedeling in die omgewing veroorsaak, finansier die twee waghond-organisasies se navorsing en die besoedelaars word op dié manier verantwoordbaar gehou.

’n Persverklaring van die Verenigde Nasies oor Internasionale Aarde-maand het die plaaslike waghond-organisasies se uitgangspunt beaam.

“Ons het ’n skuif nodig na ’n meer volhoubare ekonomie wat vir mense sowel as die planeet werk,” lui ’n deel uit dié skrywe.. Bykomede bronne: Weslander-argiewe

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.