Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Optog oor behuising vreedsaam

Inwoners van Piketberg het verlede Donderdagoggend, onder die wakende oog van die polisie, betoog om hul stem oor behuisingsprobleme te laat hoor.

Ten spyte van gerugte dat die betoging gewelddadig kon raak, het die protesaksie vreedsaam verloop.

Volgens ’n video wat deur die munisipale bestuurder, Hanlie Linde, op die Bergrivier-munisipaliteit se Facebookblad geplaas is, was die betoging ’n wettige aksie wat deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) aangevra is.

Die optog het op 27 Junie op die hoek van Petunia- en Watsoniastraat weggespring en betogers het tot by die munisipaliteit gestap, waar ’n memorandum aan die burgemeester, Ray van Rooy, oorhandig is.

Van Rooy het Dinsdag aan Weslander gesê dat die betoging vreedsaam en georganiseerd verloop het. Volgens van Rooy het die munisipaliteit die Dinsdag voor die protesaksie met die geraakte partye vergader waar genoem is dat mense met busse aangery sou word om aan die betoging te kom deelneem. “Dit het egter nie gerealiseer nie,” het hy verduidelik.

“Die betogers is grootliks agterplaasbewoners wat eis dat daar vir hulle ’n gedienste stuk grond beskikbaar gemaak word. Baie van hierdie mense was seisoenale plaaswerkers wat later in die dorp kom woon het.”

Volgens hom was daar ook heelwat jeugdiges wat aan die betoging deelgeneem het wat “nie vir huise kwalifiseer nie”.

Die munisipaliteit is versoek om terugvoering aan die gemeenskap te gee binne sewe dae vandat die memorandum oorhandig is.

Van Rooy sê daar sal nog voor die einde van die week ’n gesprek met die betrokke groep inwoners oor hul eise gevoer word.

“Behuising is die verantwoordelikheid van die provinsiale regering. Die munisipaliteit tree slegs as ’n agent vir die provinsie op. Ons kan die grond beskikbaar stel, maar die provinsie moet dit finansier.”

’n Anonieme inwoner het die volgende aan Piketberg Online geskryf oor Donderdag se betoging: “Die publiek was baie negatief oor die betoging en baie dink dit gaan altyd oor geweld. Op die plase werk honderde seisoenwerkers en ’n groot deel van hierdie werkers gaan net vir drie weke met verlof. Hulle is die res van die jaar hier.

“Weens hulle floreer ons sakeondernemings. So, êrens moet daar geluister word na hierdie mense se versoeke. As plase en sakebelange nie uitgebrei het nie, sou die mense nie hier gewees het nie. ’n Groter werksmag is broodnodig vir ontwikkeling. Dis ’n kettingreaksie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.