Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pa voor sy gesin op strand geboei

WESKUS – “Ons is getraumatiseer en verneder.”

’n Man van Dwarskersbos wat sy 10 maande oue baba by hom op die strand gehad het, is glo voor sy histeriese gesin rondgepluk, geboei en in hegtenis geneem.

Adv. Hanlie Linde, munisipale bestuurder van die Bergrivier-munisipaliteit, verduidelik die man is in hegtenis geneem omdat hy op Dwarskersbos se strand was ná die spertyd en omdat hy glo ’n wetstoepasser “verhinder het om sy werk te doen”.

Die nasionale inperking se vlak 4-regulasies weens die Covid-19-pandemie bepaal dat inwoners slegs in die oggend van 06:00 tot 09:00 binne ’n radius van 5 km van die huis af mag oefen.

Volgens Ludwig Gericke (34), ’n argitek van beroep, is ’n boodskap van Laaiplek-polisie vroeër die week met Dwarskersbos se inwoners gedeel dat hulle toegelaat sal word om soggens op die strand te stap, mits daar nie visgevang of geswem word nie. “Die boodskap is ook wyd op sosiale media gedeel,” het hy aan Weslander gesê.

Hierdie besluit is glo geneem omdat die hoofpad gevaarlik vir voetgangers is en die dorpie se strate baie nou is. Oefening op die strand beteken dus dat ’n veilige fisieke afstand tussen die stappers gehou kan word.

Reëls is oortree

Ludwig, sy vrou, Mari (32), hul dogter (3), babaseun (10 maande) en hond het hul huis in Dwarskersbos Saterdag 9 Mei omstreeks 08:00 verlaat, om strandlangs te stap en ’n paar noodsaaklikhede by ’n plaaslike winkel te koop voor hulle huiswaarts keer.

Soos die kraai vlieg is die Gericke-gesin se huis minder as 200 m van die winkel geleë. Ludwig sê sy vrou en dogter was skaars weg na die winkel, toe ’n verkeersbeampte oor die strand uit Elandsbaai se rigting na hom aangehardloop kom.

“Die man het gevra wat ek op die strand doen en gesê ek oortree die vlak 4-regulasies. Ek het geantwoord ek wag vir my vrou en kind om van die winkel af te kom en dat ons dan huis toe sal gaan.”

Ludwig sê hy het in die rigting van Roosstraat begin stap om van die strand af te kom, maar die verkeersbeampte het hom aan die arm gegryp en hom in die teenoorgestelde rigting probeer trek.

“My seuntjie het begin huil en ek het myself teëgesit en aan die beampte gesê hy moet ons uitlos. Intussen het my vrou en dogter daar aangekom.”

Mari het na hom toe gehardloop, begin huil en desperaat by die verkeersbeampte gepleit om hulle te los. ’n Kollega van die beampte het intussen daar aangekom om te help.

“Hy (die verkeersbeampte) het aanhoudend gesê ek moenie die baba ‘gebruik’ nie. Hy het steeds my arm in ’n greep gehad en my van my vrou probeer wegsleep.

“Mari het vinnig ons seun uit die drasak op my bors gegryp.

“Die een man het my vasgehou, terwyl die ander een my voor my gesin geboei het.” Ludwig is na ’n verkeersvoertuig geneem.

‘Hulle wou ’n voorbeeld van my maak’

“Ons het na die polisiekantoor gery en die beamptes het met mekaar gepraat oor hoe moeg hulle is vir Dwarskersbos se mense ‘wat nie luister nie’, en dink hulle is ‘bo die reg’, dat hulle wat die verkeersdiens is, nie deur die inwoners ‘vir ’n grap uitgemaak sal word nie’ en dat hulle ‘’n voorbeeld’ van my sal maak.”

Volgens Ludwig was hy vreesbevange dat hy die hele naweek in die polisieselle sou deurbring, aangesien die beamptes glo herhaaldelik gesê het hulle sal hom tot Maandag toesluit.

Ludwig het eers by die polisiekantoor in Laaiplek gehoor hy gaan slegs ’n kennisgewing om in die hof te verskyn kry. Volgens Ludwig is die tyd van die voorval wat die beampte op die amptelike papierwerk neergeskryf het, 09:15. “Ons het nie ’n horlosie by ons gehad nie, maar my vraag is, hoe laat is ek dan op die strand in hegtenis geneem?”

Paartjie oorweeg regstappe

Die Gericke-paartjie oorweeg regstappe.

“Ons het baie uit hierdie ervaring geleer – dat die inperking se reëls totaal onrealisties en irrasioneel is, dat kleinlike medeburgers soos klikbekke die polisie bel en dat magsbehepte beamptes op ’n heksejag in Dwarskersbos is,” sluit Ludwig af.

Die owerhede antwoord

Linde het verder in haar skrywe aan Weslander gesê sy, asook die direkteur van gemeenskapsdienste, Dean Josephus, en die hoof van verkeer, Cavin Cornelissen, het die saak ondersoek nadat hulle daarvan op Facebook gelees het, maar het nog geen amptelike klag of korrespondensie van die Gericke-paartjie ontvang nie.

Sy het ook gesê die betrokke verkeersbeamptes was op 9 Mei aan diens om vas te stel of inwoners die regulasies oortree. Volgens die verkeersbeamptes se verklaring het hulle Ludwig “vriendelik versoek” om saam te werk en hom in hegtenis geneem omdat hy “geweier het”. Linde sê Ludwig is in hegtenis geneem vir die verhindering en belemmering van die uitvoering van ’n verkeersbeampte se pligte. “As hy sy samewerking gegee het, het hy slegs ’n boete ontvang,” het Linde bygevoeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.