Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pasop vir TikTok se donker kant

Jy het dalk al gehoor hoe jou 14-jarige en haar vriendinne mekaar vra of hulle dié en daai video op TikTok gesien het. TikTok is ’n nuwe sosiale netwerk waarop jy kort musiekvideo’s deel.

Dalk het jy gedink dis ’n kodewoord vir ’n nuwe soort gier op Instagram, of – behoede ons – die naam van ’n soort dwelm.

So erg is dit darem nie. TikTok is ’n betreklik nuwe sosiale netwerk wat tieners behoorlik op horings het.

Laat staan Facebook, Instagram en selfs Snapchat – as jou tiener verknog is aan sy of haar selfoon, is hulle waarskynlik besig op TikTok. So wat moet jy van hierdie platform weet en is daar enige rede tot kommer?

Karaoke op jou foon

Dit is ’n sosialemediaplatform waarop gebruikers kort musiekvideo’s kan maak en deel. Dit is soos karaoke op jou foon. Dit is veral gewild onder jong mense wat kort video’s maak van hoe hulle met hul gunstelingliedjies saamsing. Elke video is 15 sekondes lank en nes Instagram en Snapchat kan jy allerhande filters aanbring. Soortgelyk aan hierdie platforms is daar op TikTok ook ’n opsie dat jou volgelinge regstreeks kan kyk hoe jy sing. Die liedjies waarop jy kan saamsing is by die app ingesluit. TikTok het byna oornag ongelooflik gewild geword en het in minder as ’n jaar meer gebruikers gekry as Twitter en Snapchat saam. Dit is ook reeds geruime tyd een van die gewildste apps in sowel die Apple- as Google Play-winkel.

Is daar rede tot kommer?

Dit klink onskadelik genoeg om net ’n kort musiekvideo te maak, maar ongelukkig het TikTok ook ’n donker kant. As ’n reël kan enigiemand jou video’s op TikTok kyk en daarop kommentaar lewer. Dit maak dit natuurlik maklik vir pedofiele en ander seksuele teisteraars om na minderjariges uit te reik en onvanpaste kommentaar op video’s te lewer. Trouens, die BBC het oor die laaste drie maande ondersoek ingestel na die verspreiding van hierdie tipe kommentaar op die platform en gesien dat TikTok te min doen om sy jong gebruikers teen sulke mense te beskerm.

Die platform is gevolglik nou net beskikbaar vir mense ouer as 13 jaar en het streng reëls oor kommentaar wat gebruikers probeer uitlok of in gevaar stel. Volgens die BBC word die meeste sulke kommentaar binne 24 uur verwyder sodra iemand dit aanmeld, maar dit beteken die jong persoon het dit reeds gesien. Die probleem word vererger deur die feit dat TikTok geen verifikasie van ’n persoon se identiteit vereis as hulle ’n nuwe profiel skep nie.

Jy kan ook verskeie profiele skep en hoef nie jou regte naam te gee nie. Dit maak dit maklik vir pedofiele en bekruipers om verskeie rekeninge te skep sodat hulle hul bedrywighede kan voortsit, al word hulle geblokkeer.

Sulke mense kan ook ongevraagde privaatbood­skappe aan kinders stuur as die kind se verstellings dit toelaat. ’n Ander probleem is dat sommige gebruikers onvan­paste inhoud oplaai vol geweld, seksuele inhoud en vloek­woorde. TikTok het nog nie ’n manier gekry om hierdie tipe inhoud van sy jonger gebruikers af weg te hou nie, wat beteken gebruikers van so jonk as 13 kan aan eksplisiete inhoud blootgestel word.

Hoe kan ek my kind beskerm?

In reaksie op die BBC se ondersoek het TikTok, wat deur die Chinese internetreus ByteDance ontwikkel is, gesê dit bly sy “topprioriteit” om die platform ’n “veilige en positiewe omgewing” vir al sy gebruikers te maak. Hy sê wel die probleem van gebruikers wat onvanpaste boodskappe stuur, is iets waarmee “die hele bedryf worstel”. Eric Fan Kin-man van die Hongkongse federasie van inligtings­tegnologie het aan South China Morning Post gesê TikTok doen gans te min om kinders te beveilig. Hoewel die platform ’n ouderdomsperk van 13 jaar het, glo Kin-man daar is verskeie gebruikers wat veel jonger is omdat gebruikers nie hul ouderdom hoef te bevestig nie. Ouers word aangeraai om te monitor wat hul kinders plaas en waarna hulle kyk. Nóg ’n belangrike stap is om jou kind se profiel as privaat te stel, wat beteken net persone wat jy en jou kind ken kan na hul video’s kyk. Privaatrekeninge kan wel nie aan duette deelneem nie en dit kan dalk jou kind se ervaring op die platform belemmer, maar dit is vir hul eie veiligheid. Maak seker jy skakel die funksie af waarvolgens die app jou kind se ligging kan nagaan sodat jou adres nie per ongeluk aan iemand verklap word wat dit nie moet sien nie.

Kyk ook wie jou spruite op TikTok volg. Verwyder enige riskante rekeninge van hul lys om te help verseker dat hulle nie aan onvanpaste inhoud blootgestel word nie.

- Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.