Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Piketberger skryf boek oor Oscar-saak

Het lemnaeler Oscar Pistorius geweet sy meisie Reeva Steenkamp was agter die toiletdeur toe hy vier skote daardeur afgevuur het?

Dit is die vraag wat Piketberger Thomas Mollett (44) en sy broer, Calvin (49), wou beantwoord met hul navorsing vir hul splinternuwe boek, Oscar vs The Truth.

Vir Thomas, ’n selferkende amateur forensiese speurder en skrywer, en sy broer, Calvin, ’n opgeleide siviele ingenieur in Kanada, is dit hul passie om agter die ware kap van die byl, of hamer, te kom by opspraakwekkende moordsake.

Die eerste “byl” wat hy en sy broer, Calvin, ondersoek het, was die omstrede moordsaak van Stellenbosse student, Inge Lotz. “Daar was goed wat my gepla en opgeval het,” sê Thomas.

Hulle het vir twee jaar al die forensiese getuienis wetenskaplik nagegaan en tot die slotsom gekom daar is oortuigende bewyse wat die ornamentele hamer, wat in Lotz se kêrel, Fred van der Vyver, se motor gevind is, verbind met die moord.

Die getuienis met foto’s is in fyn besonderhede uiteengesit in hul boeke, Bloody Lies en Bloody Lies Too.

Sommige mense wou hulle as’t ware kruisig omdat hulle internasionale kundiges aangevat het, maar blykbaar kon niemand nog hul bevindinge verkeerd bewys nie.

Die broers het grade in wetenskap by onderskeidelik die Universiteit Kaapstad en Universiteit Stellenbosch agter hul naam.

Nou het die broers weer ingespring en ’n noukeurige studie gedoen van die forensiese getuienis in die omstrede moordsaak van model Reeva Steenkamp. Hulle wou die vraag beantwoord: Het Oscar Pistorius geweet Reeva is agter die toe toiletdeur toe hy vier skote daardeur afgevuur het wat haar gedood het?

Thomas het vir sy ondersoek ’n presiese replika van Pistorius se badkamer herskep in sy woonstel. Liters skaapbloed is aangedra om onder meer die spoelpatrone van die toilet te ondersoek.

Van hul opspraakwekkende bevindinge dui op growwe nalatigheid om die “volle prentjie” aan die hof voor te hou, veral wat betref beserings aan Steenkamp se liggaam. Die beserings asook die mate van skade in die woonstel dui vir hulle daarop dat Pistorius fisiek met haar baklei het voordat sy haar in die badkamer gaan toesluit het om weg te kom.

“Na deeglike oorweging van alle bewyse en veral hoe dit in die geheel skakel, is daar by ons geen twyfel nie dat Oscar geweet het Reeva is agter die deur,” sê Thomas.

Pistorius het in die hof beweer hy het gedink dit is ’n inbreker.

“Baie mense skel ons uit en verskree ons as “leke” en “amateurs” maar verstaan nie dat ons eerder wil help as om af te breek. Ons wil orde in polisie-ondersoeke en die regstelsel help bevorder. Deur daaroor te skryf hoop ons dat die fokus op die gebreke sal val sodat dit in die toekoms reggestel en verhoed kan word.

“Ons wil die publiek se forensiese waghond wees,” sluit Thomas af wat die afgelope 22 jaar soos hy dit stel “aan en af” op Piketberg bly waar hy tans ’n woonstel met sy ma, dr. Margaret Mollet, deel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.