Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Planne vir hawe kry momentum

Beplanning vir grootskaalse toerisme-ontwikkeling en stedelike vernuwing by die Laaiplekhawe is besig om momentum te kry.

As die beplanning glad verloop, sal die hawegebied soos dit tans lyk binne ’n paar jaar heeltemal onherkenbaar wees.

’n Spogwoongebied en ’n toerismefokusgebied met infrastruktuur vir talle ontspanningsaktiwiteite, winkels en restaurante is maar net ’n paar elemente van die groter visie vir hierdie reuseontwikkeling.

Die Laaiplek-hawegebied is destyds deur die regering as ’n groeinode met groot potensiaal geïdentifiseer. Die voorstel vir ’n hawe-ontwikkeling met ’n toerismefokus is in 2014 in die uiteindelike gebiedsbeplanningverslag vir Laaiplek en Velddrif deur die munisipaliteit, departement van landelike ontwikkeling en die aangewese konsultant, City Think Space, uitgereik.

In hierdie goedgekeurde gebiedsplan word ook melding gemaak van die Delta Bec-verslag wat kyk na die opgradering van die funksionele hawe, maar ook die ontwikkeling van die grond as ’n toerismenode.

Hoewel mense al dekades lank oor die ontwikkeling van die hawegebied praat, het hierdie nuwe wending die onderskeie grondeienaars aangespoor om die bal aan die rol te sit.

Die Laaiplek-haweforum is in Julie 2017 gestig om samewerking en kommunikasie tussen grondeienaars, ontwikkelaars, die Bergrivier-munisipaliteit en staatsdepartemente met betrekking tot ontwikkeling van die hawegebied te verbeter.

Rolspelers sluit onder meer in die Eigelaar-groep wat grootskaalse opknapping van die Laaiplek-hotel beplan en ook besig is met ’n residensiële ontwikkeling, en Johan Nel van Sunset Villas.

One Vision-eiendomme, wat op finale goedkeuring van sy onderverdelingsaansoek vir sy reeds gedienste seefronterwe in die hawegebied wag, en die Bergrivier Gesin & Leefstyl-hotel wat 145 selfsorgeenhede beplan, is ook deel daarvan.

Een van die haweforum se voorkeure is om ’n oplossing vir die kommerwekkende erodering van Laaiplek se kuslyn te vind.

Volgens Dian Müller, ’n lid van die forum en argitek van gedeeltes van die ontwikkeling, word die bou van ’n permanente struktuur beplan wat wegkalwing van die kuslyn sal verhinder.

Riaan Smit, voorsitter van die forum, sê hierdie struktuur sal nie net erosie keer nie, maar moet ook “esteties bevredigend” wees.

’n Muur wat as ’n verhewe wandelpad sal dien, of sandsakke met ’n plankepad (boardwalk) daaroor en trappe tot op die strand, is sommige voorstelle wat oorweeg word.

Johan Nel se Sunset Villas, One Vision se seefronterwe en grond van die departement van openbare werke word die ergste deur die kuserosie geraak.

Kusbeplanners en mariene-ingenieurs werk saam met hierdie partye om die beste oplossing en ontwerp te bepaal.

Velddrif en Laaiplek se mense maak al honderde jare staat op die visbedryf om hul potte aan die kook te hou.

In die lig van kwynende visbronne is “bevordering van toerisme” die antwoord, verduidelik Müller.

Smit sê weer elke 12 besoekers beteken een nuwe werksgeleentheid.

“Die ontwikkeling van die hawegebied sal groot ekonomiese vooruitgang vir die dorp beteken,” het Smit bygevoeg.

Hy verduidelik verskeie openbare deelnameprosesse is reeds gedoen, maar ander sal volg namate die ontwikkeling vorder.

Hoewel die beoogde ontwikkeling baie positiewe terugvoering uit die gemeenskap ontvang het, is nie almal met belange op die dorp ewe ingenome met die idee nie.

“Een van die partye wat appèl teen die ontwikkeling by die departement van omgewingsake aangeteken het, is die Amawandle-visfabriek. Ons behoort binnekort terugvoering hieroor te kry,” sê Smit.

Hy vertel ook die onderskeie prosesse om toestemming van die regering vir hersonering en ander aktiwiteite te kry, is in ’n gevorderde stadium.

. Die departement van openbare werke het sy plan vir Operasie Phakisa in Augustus 2015 in ’n dokument uiteengesit.

Hiervolgens het die departement beplan om 13 klein hawens op te knap. Laaiplekhawe is een van hierdie hawens.

Die regering het sowat R400 miljoen tussen 2016 en 2019 beskikbaar gestel om verbeterings by die 13 hawens aan te bring.

Die departement het reeds in hierdie tydperk talle wrakke van skepe wat gesink het, uit die Laaiplekhawe verwyder.

Volgens Riaan Smit lê grootskaalse baggerwerk nog voor terwyl die hyskraan by die hawe sowel as die bestaande hout-aanlegsteier waar die skuite vasmeer, vervang moet word. Hy sê toestemming is reeds verkry om die sand wat deur baggerwerk uit die hawe verwyder word, terug na die geërodeerde kuslyn te pomp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.