Die spekboom-uitdaging het vele aangespoor om dié suurstof-vriendelike plant te koop en Weskussers kan nou hul eie plantjies in Hopefield kry.
Dié uitdaging, om sowat ’n duisend spekbome te plant, het verlede jaar op sosiale media begin. Sedertdien het verskeie munisipaliteite en winkelsentrums ingespring om die “wonderboom” te plant.
Spekbome is ’n superplant wat koolstofdioksied na suurstof omskakel. Volgens die WWF vang en berg spekbome koolstofdioksied teen dieselfde tempo as in subtropiese woude elders in Afrika.
Benewens die super-omskakeling het die spekboom slegs tussen 250-350 ml water per jaar nodig om te oorleef – wat dit beslis ’n waterwysplant maak.
Jacqueline Goldhill van Hopefield meen dit maak nie saak of mense spekbome olifantskos of “pork bush” noem nie, dié plant behoort in elke tuin. Goldhill woon op ’n kleinhoewe en verkoop die plantjies wat sy meen ’n teenvoeter vir klimaatsverandering is.
Spekboompies is vrylik beskikbaar, maar hoef nie regtig aangekoop te word nie. ’n Steggie wat geplant en goed na gekyk word, sal ook ’n boom word.
“Sorg dat die plant genoeg son kry en dit moet sy helder groen kleur behou. Selfs diegene wat nie groenvingers het nie, kan die boompie aanplant, want dis feitlik onmoontlik dat die plant sal doodgaan. Selfs in koel toestande fotosinteer ’n spekboom soos ander plante en neem koolstofdioksied in wat in suurstof omgeskakel word,” vertel Goldhill.
Wees deel van die Spekboom-uitdaging en veg teen aardverwarming. . Goldhill (079 522 5123) verkoop haar spekbome, wat reeds ongeveer 30 cm is, teen R20 elk. Daar is egter afslag indien 10 boompies op ’n slag gekoop word, met elke boom wat slegs R15 sal kos.