Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Polisiewerk in sy are

Sers. Ernie Strauss is ’n polisieman in murg en been.

Polisiewerk is só deel van sy lewe dat hy vir ontspanning Deon Meyer-speurverhale lees en polisieflieks of -reekse kyk.

Dié bekwame speurder is veral bekend in St. Helenabaai waar hy meer as tien jaar lank moorde ondersoek het. Hy is deesdae by die Weskus se gesinsgeweldeenheid in Saldanha werksaam.

Weslander het in die gees van nasionale Polisiedag (27 Januarie) met sers. Strauss oor sy passie vir speurwerk gesels.

Strauss kom uit ’n polisie­familie. Sy pa is ’n afgetrede polisieman, sy oupa was ’n polisieman, sy ma werk in Vredenburg se polisiekantoor en dan is daar nog ooms en tannies wat dieselfde beroep gekies het.

“Ek wou nog altyd in die polisie wees. Ek het in 2003 op 18-jarige ouderdom my loopbaan in Atlantis begin. Ek het letterlik my skooluniform vir ’n polisieuniform verruil en was een van die jongste ouens in die polisiekollege,” vertel hy.

Sy pa, wat geweet het hoe uitdagend polisiewerk kan wees, was besorgd oor Strauss en het hom aanbeveel om ’n ander loopbaan te kies, maar Strauss wou niks hiervan hoor nie. Hy het geweet polisiewerk vloei in sy are.

“Dit was moeilik. Die vorige jaar was ek nog ’n kind wat in die middae rugby gespeel het en hier was ek skielik aan die lelike werklikheid van die lewe blootgestel.”

Tog het die ontnugterende waarheid hom nie verhinder om ’n topspeurder te word nie.

Hy het vir ’n tydperk in Melkbosstrand in die sigbarepolisiëringseenheid gewerk, maar dit was eers met sy aanstelling as speurder in St. Helenabaai in 2007 dat hy sy ware roeping gevind het.

As iemand hom oor sy talente uitvra, sê hy altyd hy het ’n aanvoeling vir speurwerk en dat dit sy grootste Godgegewe gawe is. En gemeet aan sy sukses by die werk, steek hy sy talent gewis nie onder ’n maatemmer weg nie.

“Wanneer ek in die aande gaan lê, is ek tevrede dat ek iemand vandag gehelp het. Dis waaroor speurwerk vir my gaan. ’n Mens kan nie emosioneel betrokke raak by sake nie, want dit sal jou opvreet, maar aan die ander kant moet jy baie omgee en empatie hê met die slagoffers en hul gesinne. Dis ’n fyn balans.

“Ek probeer myself altyd indink hoe ek sou voel as die slagoffer een van my mense was. Wat sou ek van die ondersoekbeampte verwag?”

Strauss werk sedert 2019 vir die gesinsgeweldeenheid en hy erken, dit “vat aan ’n mens”.

“Ek vind dit moeilik om te dink dat iemand ’n kind wil seermaak,” sê hy.

Dis uitdagende werk, maar hy voel dit maak van hom ’n beter pa. Sy vrou en kinders is sy veilige hawe en afpakplek wanneer hy smiddae huis toe gaan.

Wanneer werksdinge pla, gesels hy met sy vrou daaroor, maar sy eintlike berader en vertroueling is sy pa, Jan, wat altyd goeie raad het omdat hy ook in die diens was.

Het hy al ooit ’n ander loopbaanrigting oorweeg? “Nee, nooit,” sê hy. “Soms praat my kollegas oor ander rigtings of ondersoek sakegeleenthede, maar ek stel nie daarin belang nie. Ek sien nie myself enigiets anders doen nie. Ek sal altyd ’n polisieman wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.