Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rondloperhonde hou groot gevaar vir inwoners in

Probleme met rondloperhonde is vir baie Weskussers ’n kopsorg met inwoners van Velddrif tot St. Helenabaai wat kla oor diere wat “buite beheer” is.

In Velddrif is Fanie Champion en sy bure raadop met die honde laer af in die straat. Champion vertel dat een honde-eienaar se troeteldier gereeld uit die erf hardloop en ander aanval. Hy sê veral vroue is bang om in die straat te loop uit vrees dat hulle deur die hond aangeval sal word.

Volgens Bergrivier se munisipale bestuurder, adv. Hanlie Linde, is die betrokke inwoner in Waterkantstraat deur wetstoepassers gewaarsku om aanpassings by sy woning te maak sodat die hond nie uit die erf ontsnap nie.

Dit is die verantwoordelikheid van munisipale wetstoepassers om toe te sien verordeninge ten opsigte van die aanhou van diere word nagekom. Linde sê beamptes het opgevolg en die saak is volgens die munisipaliteit afgehandel.

In St. Helenabaai is die inwoners nou al só moeg vir die Rhodesiese rifrûe wat hulle glo al jare lank “terroriseer” dat hulle besluit het om ’n petisie teen hul eienaars op te stel.

Volgens ’n buurvrou, Marie Bodenstein, is sy self al deur een van die honde gebyt en was haar chihuahua een van die agt honde en katte wat deur die rifrûe doodgebyt is.

“My grootouers woon hier en my broer is net nege jaar oud. Almal is bang om buite die erf te wees. Ek glo nie die eienaar van die honde kan hulle enigsins beheer nie.

“Ek het die eienaars al gekonfronteer, maar in plaas daarvan om die probleem op te los, sê hulle ons kan oor ’n tyd ooreenkom wanneer ons in die straat wil loop en die honde sal dan binne gehou word,” sê Bodenstein.

Ten spyte van klagtes aan die Saldanhabaai-munisipaliteit se wetstoepassers en die boetes wat uitgeskryf is, verander niks nie, sê Bodenstein.

Munisipale wetstoepassers het die magtiging om boetes uit te skryf indien eienaars die verordeninge van die munisipaliteit oortree.

Die inwoners is van plan om hul petisie aan die Saldanhabaai-munisipaliteit te oorhandig.

Bodenstein sê sy hoop ’n permanente, langtermynoplossing kan vir die hondeprobleem gevind word.

“Die honde is agter ’n heining, maar hulle spring maklik oor. As een van die honde vrek, kry die eienaar net ’n nuwe hond – weer ’n rifrug.

“Elke keer as die honde iemand of ’n dier byt, kyk die eienaar net anderpad.”

Die Dierebeskermingsvereniging kan slegs die dierebeskermingswet afdwing wat van toepassing is op diere wat verkeerd aangehou of mishandel word.

. Weslander was ná vele pogings om die rifrûe se eienaars te kontak ongelukkig onsuksesvol.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.