Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rooftog én inbraak by winkel net ure uitmekaar

’n Drankwinkel in Vredenburg is Vrydagaand deur vier gewapende mans beroof en oornag weer besteel.

Ná al die drama van die vorige aand het die eienaar die winkel die volgende oggend oopgesluit net om te ontdek inbrekers het oornag toegeslaan en hom verder besteel.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het vier gewapende mans Vrydagaand by die Liquor Zone-drankwinkel in Hoofstraat ingegaan en die eienaar, sy vrou en kollegas met vuurwapens gedreig.

Die rowers het geld uit twee kasregisters geneem en ’n derde kasregister oopgebreek om die geld daaruit te haal. Hulle het met sowat R100 000 gevlug.

Helfrich het die tweede misdaad ure ná die rooftog bevestig en gesê die diewe het in die nag deur die dak toegang tot die winkel verkry.

Die inbrekers het die kluis oopgebreek en geld asook juweliersware wat daarin gestoor was, gebuit. Talle bottels drank is ook gesteel.

Dit is nie bekend of dieselfde misdadigers vir die rooftog en die inbraak verantwoordelik was nie.

Die totale finansiële skade beloop sowat R760 000.

Enigeen met inligting kan met AO Andries Kleynhans of sers. Simon Sokhutu by 022 703 6464 in verbinding tree.

. Hierdie gewapende roof is die tweede ernstige voorval by die winkel in elf maande. Liquor Zone se personeel en klante is op 1 September verlede jaar deur vyf mans met vuurwapens aangehou.

Altesaam R70 000 en ’n rekenaarboks is destyds gesteel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.