Strande van St. Helenabaai tot Elandsbaai loop rooi van kreef en ander spesies wat uit die see loop.
Rooigety word tans al langs die Weskus ervaar. Dit is ’n natuurlike proses wat veroorsaak word weens ’n tekort aan suurstof in die water, en seediere wend hulle dan na die kus.
Die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye het Maandag laat weet seekatte, witmossel en verskeie visspesies het ook al langs die streek begin uitloop.
Die department het weens dié gebeurtenis sy rooigety-gebeurlikheidsplan van stapel gestuur. Dié plan is ’n gesamentlike inisiatief tussen die department, die Weskus-distriksmunisipaliteit, wetstoepassers en die Cederberg-munisipaliteit, wat werk om die strande skoon te maak.
“Soos gewoonlik in die somer en laatsomer was daar die afgelope paar weke ’n opbou van rooigety in die groter St. Helenabaai-streek. Hierdie blom van fitoplankton strek tans 50 tot 60 kilometer in die omgewing van Elandsbaai, Lambertsbaai en Doringbaai,” het die department verduidelik.
Hoewel ’n geelwaarskuwing tans geld, maak rolspelers gereed vir ’n rooiwaarskuwing met ’n moontlikheid dat meer as 10 ton spesies weens die rooigety kan uitspoel, waarsku die departement.
Die Cederberg-munisipaliteit het inwoners gemaan om nie die uitgespoelde kreef te versamel nie. “Die departement en die distriks- en plaaslike munisipaliteit gebruik die EPWP om die lewende krewe op te tel sodat dit terug in die see geplaas kan word.
“Mense van die gemeenskap het aggressief gekom om die krewe te versamel, maar die polisie het vinnig opgetree en hulle gestop. Die polisie sal die strande snags patrolleer. Die gemeenskap se samewerking word gevra om nie die krewe op te tel vir eie gewin nie,” het die munisipaliteit gemaan.
’n Deel van die probleem met inwoners wat spesies versamel om te eet of te verkoop, is dat dié diere giftig vir mense kan wees.
“Vergiftiging kan plaasvind deur die inname van seekos wat deur giftige alge besmet is, of deur giftige aërosols of waterverbindings wat asemhalings- en velirritasie veroorsaak,” maan die departement.
Rooigety kan egter ook ander gevolge inhou: “Die rooigety veroorsaak skade deur die tekort aan suurstof (anoksemie), wat alle seediere beïnvloed, en kan tot massavrektes van hele marienespesies lei, of die massiewe uitstap van krewe wat probeer om aan die anoksemie- toestande te ontsnap.”
Die departement het egter laat weet ondanks die rooigety is kreefvangste steeds goed, wat daarop dui dat suurstofvlakke steeds hoog is.
Na verwagting sal die massa-uitloop van spesies die volgende paar dae plaasvind.
Teen Dinsdag was die Elandsbaai-strandgebied gerehabiliteer ná samewerking tussen die verskillende rolspelers, het die munisipaliteit gesê.