Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sakelui vereer Weskusser

Marius Koen, die Saldanhabaai-munisipaliteit se burgemeester, het by die Weskus-sakekamer se afgelope netwerkgeleentheid hulde aan Stedman Gans gebring.

Sakelui kon by dié eerste sodanige geleentheid van 2021 en onder die bestuur van die nuwe sakekamer luister na die spreker Marius Schoeman, bestuurder van die Rugby-akademie in Stellenbosch, waaronder die nasionale 7’s-span val.

As oudspeler in beide die 7’s- en 15-man-weergawees is hy tans afrigter by die akademie en ook verantwoordelik vir die werwing, keuring en kontraktering van alle nuwe 7’s-spelers. In sy praatjie het hy baie verwys na die kultuur by die akademie en hoe alles gedoen word om van Suid-Afrika se 7’s-spanne die beste in ’n baie taai en uiters mededingende sportsoort te maak. Baie van wat hy genoem het, kan in enige onderneming wat ’n suksesvolle span wil bou, van toepassing wees. “Waarvoor leef ons? Waarna streef ons? Waarvoor staan ons? By die akademie glo ons aan wat ons doen en elke speler op die veld weet presies wat sy doel is. Verder is elkeen bereid om in te sit wat nodig is en teen ’n intensiteit te oefen wat baie hoër is as wat in enige wedstryd verwag kan word. “Jy het nie noodwendig die beste speler nodig nie, maar eerder iemand wat die kultuur van die span verstaan en sy deel tot die sukses van almal bydra.”

In sy praatjie het hy telkens verwys na Stedman Gans, die eregas vir die aand. Stedman is deur die sakekamer en die Saldanhabaai-munisipaliteit by die geleentheid vir sy prestasies op die sportveld vereer.

Gans is in Vredenburg gebore, en hoewel hy van sy hoërskoolloopbaan af nie meer hier woon nie, beskou hy homself steeds as ’n kind van die Weskus.

Hy het ook die voorreg gehad om sy ma, Charlotte, die aand daar te hê.

Gans het provinsiale kleure verwerf deur die Blou Bulle by hoërskool-toernooie tussen 2013 en 2015 te verteenwoordig. Hy het die aandag van nasionale keurders getrek en is in 2015 in die SA Skolespan vir die o.18-internasionale reeks ingesluit. Hy het aan die einde van 2016 by die akademie aangesluit en lid van die uiters suksesvolle groep geword. Hy is in 2019 as kaptein van die SA 7’s-span aangewys.

So, wat lê voor vir Marius, die ander afrigters, Stedman en sy spanmaats? Met hierdie wenkultuur maak hulle hul ondersteuners reeds trots, maar mik vir hoër – moontlik ’n goue medalje in die 2021- Olimpiese Spele.

En Gans? Dalk Sprinbokkleure in 2022? Wat ook al gebeur, die Weskus sal hierdie speler se toekoms met groot opgewondenheid dophou. Moontlik is hy eersdaags weer in die dorp, in antwoord op die burgemeester se uitnodiging “om in die nabye toekoms ’n rugbykliniek te kom aanbied sodat die ontwikkeling van skole en gemeenskapsrugby voortgesit kan word”.. Die sakekamer het Schoeman, Gans en Koen vir hul bydrae bedank, sowel as Blue Bay Lodge vir verblyf vir die gaste, en die lede wat die aand ondersteun het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.