Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Saldanhabaai se watergehalte bestendig’

Saldanhabaai se watergehalte is ondanks groot nywerheids­ontwikkeling bestendig, en is selfs besig om te verbeter.

Dié gevolgtrekking spruit uit moniteringsinligting saamgestel deur dr. Barry Clarke, stigter van Anchor Environmental Consultants vir die jaarlikse watergehalteverslag van die Saldanhabaai-watergehalteforumtrust (SBWQFT).

Die SBWQFT samel al van 1999 af inligting in met betrekking tot die watergehalte van Saldanhabaai en die invloed van nywerheidsbedrywighede daarop. Groot nywerhede, die belangrikste bydraers tot besoedeling in die baai, finansier SBWQFT se navorsingswerk.

SBWQFT se jaarlikste opedag is Vrydag 26 Oktober in Club Mykonos se Athenesaal gehou. Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het die verwelkoming behartig, waarna ’n paar uitgesoekte kenners op die gebied van volhoubare ontwikkeling en omgewingskwessies die gehoor toegespreek het.

Clark het op sy beurt die watergehalte­verslag voorgelê en aan gaste gesê rede vir kommer sal altyd bestaan, al is die watergehalte van Saldanhabaai tans “bestendig”.

Die voorkoms van spoorminerale in die water soos koper, kadmium, lood en mangaan moet deurlopend fyn dopgehou word om ekologies volhoubare nywerheidsontwikkeling in die nabye en verre toekoms te verseker.

Kadmium is ’n karsinogeniese stof wat in erts voorkom waar nywerheidsprosesse plaasvind. Kadmiumvlakke is hoog in Saldanhabaai – nie by oorsprongspunte nie, maar wel in gebiede waar sediment op die bodem versamel en gaan lê.

“Kadmiumvlakke is meesal binne aanvaarbare perke, maar ’n skerp styging in kadmium is al veroorsaak toe groot baggerwerk (dredging) in die baai gedoen is,” verduidelik Clark.

Filterdiere soos mossels en oesters neem kadmium in en volgens Clark is dit nie gesond vir mense om ’n groot hoeveelheid van hierdie spoorelement in te neem nie. Tog is hy van mening skulpvis in Saldanhabaai is steeds veilig om te eet.

Skulpvis wat natuurlik op rotse in die baai naby menslike en nywerheids­aktiwiteite voorkom en deur SBWQFT getoets is, toon wel ’n hoër kadmiumvlak as die getoetste oesters van oesterplase wat dieper in die see en verder van nywerhede af geleë is.

Lood word van Transnet se veeldoelige terminaal in Saldanhabaai af uitgevoer en beland met storting per abuis in die water. Clark sê hul toetsmonsters in die gebied van die veeldoelige terminaal toon ’n hoë voorkoms van lood, terwyl die loodvlakke elders in die baai binne ’n meer aanvaarbare perk is. Lood kan ’n negatiewe invloed op die plaaslike oesterbedryf hê.

Koper is giftig vir mariene-organismes. Verhoogde kopervlakke kom naby die veeldoelige terminaal voor waar storting soms plaasvind wanneer skepe gelaai word.

Mangaan in die baai is ’n bron van kommer,” erken Clark. Mangaan word sedert 2013 van Saldanha af uitgevoer en verlede maand het die nasionale departement van omgewingsake ingevolge artikel 41(1) van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Luggehalte (2004) skriftelike goedkeuring aan die hawe-owerheid, Transnet Port Terminals (TPT), gegee vir die berging van sowat 300 000 ton mangaan. Die mangaandeurset by die hawe word stelselmatig vermeerder, maar volgens Clark is dit verbasend dat sedimente nie toon dat mangaan in die baai besig is om te styg nie. Inteendeel, montering dui op ’n effense vermindering in hierdie spoorelement.

Clark sê die Wêreldgesondheids­organisasie is van mening dat mangaan wat deur seekos ingeneem word, nie ’n groot gesondheidsrisiko inhou nie, maar wel mangaanstof (swartstof) wanneer dit ingeasem word.

Afvalwater soos stormwater, behandelde rioolwater, uitvloeisel van visverwerkingsprosesse en die tru-osmose-aanleg dra by tot die watergehalte en gesondheid van Saldanhabaai. Behandelde rioolwater wat in die baai beland is ’n bron van fekale koliforme (skadelike bakterieë).

Clark sê sedert behandelde rioolwater verlede jaar in die droogtekrisis vir produksiedoeleindes aan nywerhede gegee is, het die voorkoms van fekale koliforme in die water drasties gedaal. Rompwater wat skepe van elders na die Weskus bring, word saam met indringer-marienespesies in die baai gestort.

“Die hoeveelheid skepe wat rompwater na Saldanhabaai bring het in die afgelope twee en ’n half jaar verdubbel.”

Die beplande grootskaalse akwakultuurontwikkeling in Saldanhabaai is ’n omstrede kwessie. Een van die vrese wat kampvegters teen die ontwikkeling uitgelig het, is dat uitheemse spesies die baai se ekologie kan versteur.

Clark sê ’n visserman het onlangs ’n reënboogforel gevang en daar word vermoed dit is ’n vis wat uit een van die bestaande visplase se hokke ontsnap het. “Dis darem net ’n reënboogforel, maar as dit iets soos ’n Atlantiese salm was, het ons moeilikheid gehad. Dis ’n gulsige roofvis.”

Migrerende watervoëlspesies asook plaaslike watervoëlspesies het oor die jare aansienlik minder geword en is volgens Clark ’n duidelike aanduiding dat menslike aktiwiteite besig is om die ekologie van Saldanhabaai te verander.

Clark het afgesluit met sy professionele mening rakende die inligting in die verslag.

“Laasjaar het ons inligting getoon die baai is bestendig; vanjaar se bevindinge dui ook op bestendigheid, selfs ’n klein verbetering,” het hy aan die volgepakte saal gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.