Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sê gou oor sandmyn naby Nieuwe Rust

Inwoners wat hul sê wil sê oor ’n voorgestelde sandmyn in die omgewing van Nieuwe Rust en Trekoskraal, moet gou spring.

Registreer as ’n geraakte of belanghebbende party voor 14 Junie.

Die voorgestelde kleinskaalse sandmyn word op ’n gedeelte van die plaas, Holvlei, toeganklik vanaf die Jacobsbaaipad (Minorweg 767), beplan.

Die vyf hektaar grond waarop die mynaktiwiteite sal plaasvind, word nou as landbougrond gebruik.

Volgens ’n agtergronddokument van Klipberg Consulting, wat vir die aansoeker Peakstar 135 (Pty) Ltd die omgewingsimpakstudie en openbare deelnameprosesse sal behartig, is die maksimum tydsduur van hierdie projek vyf jaar.

Die sand wat hier gemyn word sal aan kliënte in die bou- en nywerheids­ontwikkelingsektor verskaf word.

Die grond sal in vyf dele verdeel word en daar sal volgens die dokument slegs op een deel op ’n slag gemyn word.

Die geraamde diepte vir mynaktiwiteite is twee meter.

Rehabilitasie van die gebied ná die voorgestelde tydperk sluit die vervanging en stabilisering van die bogrond in, sowel as verdere rehabilitasie sodat die grond weer in die toekoms as landbougrond gebruik sal kan word.

Klipberg Consulting het die moontlike impak op die gebied ondersoek en volgens die agtergronddokument is die konsultant van mening dat biodiversiteit en water­bronne nie noemenswaardig deur die projek geraak sal word nie.

Ook word daar genoem dat geraas en stof glo grootliks tot die myngebied beperk sal wees.

’n Erfenis- en landboustudie word vereis.

Mense moet as belanghebbende of geraakte partye voor of op, volgende Vrydag registreer.

Enige kommentaar op hierdie tydstip is ook baie welkom.

Daarna sal alle geregistreerde partye ook ’n verdere 30 dae kry om kommentaar op die basiese omgewingsimpakverslag te lewer.

Kontak die konsultant, Stephen Davey by 082 782 3727 of sdavey@klipberg.co.za in dié verband..

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.