Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Skool moet verwagtinge deel’

Die plaaslike polisie het vinnig tot aksie oorgegaan nadat hulle inligting ontvang het dat sekere politieke partye glo Maandag buite die Laerskool Vredenburg sou betoog het.

Dié aksie volg nadat die skoolhoof, André Muller, se optrede teenoor ’n studentonderwyser, William Sezoe (19), groot opslae gemaak het in die media die afgelope week.

Die betogings het nie plaasgevind nie, maar dié politieke partye dring aan dat Muller onmiddellik geskors word.

Sezoe, ’n tweedejaar-onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch, het die Laerskool Vredenburg gekies om sy twee weke van observasie te begin op Maandag 15 Februarie. Dié reëlings is met die adjunkhoof bevestig aan die einde van 2020.

Sezoe vertel hy is die oggend by die skool verwelkom deur die adjunkhoof en op ’n toer van die skool vergesel. Terwyl hy in die voorportaal gesit en wag het, het ’n ander onderwysstudent, Keithan Fortuin, hom genader en met hom gedeel dat Muller hom voorgekeer het by die hek en aangespreek het oor sy hare.

Fortuin het aan Weslander gesê hy was baie verward toe die hoof sê hy moet die “jel uit sy hare was wat dit so laat krul”, want sy hare krul natuurlik, maar dit kan seker voorkom asof daar jel in is. “My hele eerste dag was ongemaklik en onsmaaklik ná dit,” sê Fortuin, wat steeds by die skool is.

Sezoe vertel op sy beurt, toe Muller hom in die voorportaal gewaar, het hy in sy spore gestop en reguit gevra, “Wat soek jy hier?” Sezoe het toe verduidelik dat hy ’n onderwysstudent is, daar om observasie te doen. Muller het na bewering vir Sezoe gesê, “Wat, hier, met daai hare? Nog nooit. Jy is nie welkom hier nie, daar is die deur.”

Sezoe se hare is bo blond gekleur en swart onder.

Weslander het Muller genader vir sy weergawe van die storie, maar hy wou nie in die stadium met die koerant praat nie.

Hy het egter aan Netwerk24 gesê dat sy skool ’n personeelgedragskode het en dat hy onderwysers al daaroor aangespreek het as hy dink hul kleredrag nie die reëls volg nie. Muller het gesê hy is self ’n rolmodel vir die seuns en dat hy dit ook van ander onderwysers verwag.

Volgens die studentonderwysers is hierdie personeelgedragskode nie met hulle bespreek nie.

Sezoe sê hy het nie die soort behandeling verwag nie. Hy het die skool verlaat en “op pad huis toe het realiteit ingeskop, ek was emosioneel”.

Hy het die gebeurtenis op sy sosialemediablad gedeel en dit het vinnig soos ’n veldbrand versprei.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het aan Weslander bevestig dat die saak deur die departement se arbeidsverhoudinge-afdeling ondersoek word.

Dr. Jaco Deacon, adjunkvoorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid Afrikaanse Skole (Fedsas), het aan Weslander verduidelik dat skole vergeet dat die jong mense slegs studente is.

“Die persoon is ’n gas by die skool en die verwagtinge van die skool moet met hulle gedeel word. Skole moet besef die jong mens se mode en klere gaan nie noodwendig lyk soos die res van die personeel s’n nie.”

Deacon voeg by dat daar dinamiese jong mense in die onderwys nodig is. “Ons moet diversiteit en inklusiwiteit vier.”

Weslander het ook uitgereik na die US en die WKOD om meer lig te werp op die keuringsproses wanneer studente aansoek doen vir observasies by skole. Hulle het nie voor druktyd reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.