Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Storieverteller en slagter van Vredenburg sterf

Dirk Kotze (70), bekende sakeman van Vredenburg, het Maandag in die Vredenburg Provinsiale Hospitaal gesterf.

Kotze het meer as 20 jaar gelede Dirk se Slaghuis in Markstraat Vredenburg geopen. Die slaghuis is een van die gewildste en oudste slaghuise in die dorp en gaan vandag steeds van krag tot krag.

Dirk was vroeg in sy twintigs toe hy sy eerste slaghuis in Hoofstraat, Vredenburg, geopen het. Dié slaghuis was geleë in die winkel onder die palmboom wat vandag nog op die sypaadjie voor die Excelsior-viswinkel pryk. Meer as twee dekades later het die Kotzes die slaghuis verkoop, maar Dirk het steeds as slagter by dié onderneming gewerk. In dié tydperk het hy en Lalla ’n dansplek genaamd La Direna naby Trekoskraal buite die dorp geopen, wat hulle vir omtrent vyf jaar bedryf het. In 1999 is die slaghuis in Markstraat geopen – ook onder ’n groot palmboom. Lalla se pa, dr. Benna de Jongh, was jare lank ’n raadslid en in ’n stadium die burgemeester van die destydse Vredenburg-Saldanha- munisipale gebied.

Erena Kotze, Dirk en Lalla se oudste dogter, sê laegraadse bloedkanker is vroeër die jaar by haar pa gediagnoseer wat veroorsaak het dat sy liggaam nie genoeg rooibloedselle vervaardig nie.

Dirk het ook ’n paar ander onderliggende kwale gehad en sy gesondheid was die afgelope paar maande nie altyd goed nie.

Teen Sondag het Dirk koorsig geraak en diarree ontwikkel, waarna hy in die Vredenburg-hospitaal opgeneem is.

Hy het Maandag in die hospitaal gesterf.

Erena, ’n paramedikus, kry gereeld met Covid-19-pasiënte te doen en reken dis nie die virus wat haar pa se lewe geëis het nie, maar eerder komplikasies weens die kanker en sy gesondheidsprobleme. Die familie sal later in die week meer duidelikheid oor die oorsaak van Dirk se dood kry.

Erena sê haar pa sal onthou word vir sy staaltjies, skerp humor en omgee. Dirk is selfs eenkeer genooi om op die televisieprogram Maak ’n Las te gaan grappies vertel, maar hy het dit van die hand gewys.

“As dit nie vir Covid-19 was nie, glo ek sy begrafnis sou reusagtig gewees het, want almal het hom geken,” vertel Erena.

Lalla is reeds in 2017 aan hart- en longverwante komplikasies oorlede.

Weslander het met Lalla se dood berig Dirk en Lalla is deur vriende as “vinkel en koljander” beskryf – ’n paartjie wat “maats was – altyd net ’n armlengte van mekaar af”.

Dirk was destyds platgeslaan oor Lalla se dood. Dirk laat sy dogters Erena Kotze en Dilia Kotze en ook sy kleinseun, Jano (4), agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.