Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Talle faktore lei tot Bergrivier se besoedeling

Na aanleiding van onlangse klagtes uit Velddrif oor besoedeling in die Bergrivier, het Weslander by die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gaan antwoorde soek.

Volgens Rudolf van Jaarsveldt, hoof van kommunikasie by die departement (direktoraat: strategiese en operasionele ondersteuning) is daar verskeie moontlike bronne van besoedeling in die Bergrivier se opvanggebied.

Stormwaterdreinering vanaf stedelike gebiede wat besoedel is met vaste afval soos plastiekbottels en sakke, riool vanuit informele nedersettings en agterplase wat nie toegang tot formele riolering het nie, stortings deur nywerhede, asook afloop vanaf paaie (olie, brandstowwe) beland uiteindelik in die rivier.

Hy sê ook daar is behandelde riool wat vanaf rioolsuiweringswerke in die rivier gestort word. “Indien dit nie tot die wetlik vereiste gehalte behandel is nie, kan die behandelde riool die rivier besoedel,” verduidelik Van Jaarsveldt.

Reënwater vanaf landbougebiede loop ook na die rivier. Dit kan verhoogde plantvoedingstowwe bevat as gevolg van die gebruik van kunsmis.

Onwettige storting van enige soort stof deur ’n individu, sakeondernemings of nywerhede kan ook moontlik bydra tot die besoedeling van die rivier.

Van Jaarsveld sê tendense met betrekking tot besoedeling in die Velddrifgebied is oor die afgelope paar jaar waargeneem, visueel of deur middel van die monitering van watergehalte.

Daar is bevind bakteriologiese besoedeling styg in die rivier net ná die reënval, wat bevestig dat stedelike dreinering (alles wat vanaf die stedelike gebiede in die rivier gewas word) ’n negatiewe impak op die watergehalte van die rivier het.

Ander invloede wat vermoedelik afkomstig is van nywerheidsaktiwiteite en bagger-aktiwiteite naby die riviermonding asook ’n styging in plantvoedingstowwe soos fosfate en nitrate, vermoedelik weens opwelling langs die Weskus, wat gewoonlik met rooigety gepaardgaan.

Van Jaarsveldt verduidelik verder dat riviergehalte van dag tot dag kan verskil en selfs van uur tot uur, na gelang van wat na die rivier spoel deur middel van afloop (reënwater) of die gehalte van wettige of onwettige stortings. “Monitering gee slegs ’n snapshot van die gehalte van die water op ’n spesifieke oomblik,” sê hy.

Die departement van omgewingsake (oseane en kuslyne) reguleer stortings vanaf landgebaseerde instellings (fabrieke en nywerhede) na die see of strandmeer (riviermond of estuarium). Die riviermond word in oorleg met die departement van water en sanitasie gereguleer.

In 2009 is ’n taakspan vir Bergrivier aangestel om oplossings te ondersoek en voorstelle te maak om die watergehalte van die Bergrivier te verbeter.

’n Verslag wat deur die Wes-Kaapse regering in April 2009 gefinaliseer is, het aanbevelings gemaak om die kwessies rondom watergehalte in die Bergrivier aan te spreek.

Aangesien daar egter geen kitsoplos­sings is nie, word ’n gefokusde poging deur alle rolspelers vereis om die probleem van watergehalte suksesvol aan te spreek. Die regering het in September 2012 onderneem om die Bergrivier­verbeteringsplan te ontwikkel om aandag te gee aan die watergehalte­probleme in die Bergrivier.

Die Verbeteringsplan lig die besoedeling­bronne soos bo genoem uit. Die plan identifiseer ook korttermyn­oplossings (sowat vyf jaar) en langtermynoplossings (5-30 jaar) asook die finansiële implikasies daarvan.

Benewens die monitering van watergehalte sluit take van die plan ook die opgradering van afvalwater­suiwerings­werke in, die opknapping van informele nedersettings, die bevordering van beste praktyk in landbou-, nywerheid- en huishoudelike grondgebruik, asook die skep van toerismegeleenthede. Deur avontuur- en ekotoerisme word ’n bewustheid van die natuurlike omgewing en rivier bevorder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.