Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Te min slaap lei tot vetsug en siektes

Wêreldslaapdag is ’n jaarlikse bewusmakingsgeleentheid wat op die belangrike voordele van gesonde slaappatrone fokus.

Volgens Worldsleepday.org is dié dag ook daarop gemik om slaapstoornisse en -probleme te verhoed of te verminder.

Weslander het in die lig van vanjaar se bewusmakingsdag, wat vandag (Donderdag 13 Februarie) plaasvind, gaan ondersoek instel na waarom slaap so belangrik is vir goeie gesondheid.

Stres en te min slaap maak vet

Gejaagdheid, stres, ’n ongesonde dieet, te veel skerm- en selfoontyd asook ’n oorbesige leefstyl is maar ’n paar faktore wat ’n negatiewe uitwerking op ’n mens se slaap kan hê. Die teenoorgestelde is ook waar. Te min slaap ly tot stres, gesondheidsprobleme, ongesonde eetpatrone en vetsug.

Volgens ’n gesondheidsberig wat in 2019 op Netwerk24 verskyn het, loop mense wat te min slaap kry, dikwels die gevaar om lewensgevaarlike chroniese siektes te ontwikkel.

“Dit kan bydra tot ongelukke by die werkplek en ’n mens minder produktief maak,” lui ’n deel van die berig.

Die berig maak melding van Charles King, ’n MBA-student aan die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool, wat onlangs die slaappatrone van 658 mans en vroue tussen die ouderdom van 24 en 40 jaar bestudeer het.

Die deelnemers het ’n toestel gedra wat hul slaappatrone en gewoontes drie maande lank gemonitor het. Die mense het hul gewone daaglikse roetine gevolg.

“Te min slaap is nie net verwant aan kwessies soos afwesigheid, gebrek aan produktiwiteit, swak werkprestasie en ongelukke nie, maar te min slaap word ook regstreeks verbind met sewe van die 15 hoofoorsake van dood,” sê King in die verklaring wat aan Netwerk24 beskikbaar gestel is.

Deelnemers wat sowat ses uur per nag geslaap het, het ’n liggaamsmassa-indeks (BMI) wat 12% meer is as diegene wat die aanbevole sewe tot nege uur slaap.

Diegene wat minder as vyf uur per nag geslaap het, het van die hoogste BMI-metings. Mense met swak slaappatrone is ook geneig om ongesonde leefstylgewoontes te hê, soos alkoholmisbruik, rook en te min oefening.

Saam met die min slaap verhoog dit die risiko om chroniese siektes te ontwikkel, het King bevind.

“Siekefondse dra regstreeks en onregstreeks die las van die siektes,” sê King.

“Die navorsing het gekyk na die onregstreekse koste van te min slaap vir siekefondse – veral die koste om siektes te behandel. Om gesonde slaappatrone te verseker, moet mense hul selfoongebruik verminder, minder televisie kyk en veral nie in die bed werk nie,” sê King. “Vermy ook die gebruik van nikotien, kafeïen-drankies of enige middel wat die gehalte van slaap kan benadeel. Gereelde oefening het ook beduidende voordele om slaap te verbeter.”

Kinders is geen uitsondering . . .

Volwassenes kan verskeie gesondheidskwessies in die gesig staar as hulle nie genoeg gehalteslaap kry nie. Kinders, aan die ander kant, kan hulle selfs erger kwale op die lyf loop – minderjariges is besonder kwesbaar wanneer dit by slaappatrone kom.

Volgens kenners help elke uur se slaap snags kleiner kinders om leniger spiere, ’n laer liggaamsgewig en minder suiker in die bloed te handhaaf. Kinders met ’n slaaptekort het ’n groter kans om later in hul lewe diabetes te kry, toon nuwe navorsing.

Die teenoorgestelde daarvan kan lei tot tipe 2-diabetes, wat voorkom wanneer die liggaam sukkel om genoeg insulien te vervaardig of nie op insulien reageer nie.

Prof. Christopher Owen van St. George-universiteit in Londen en sy span het 4 525 kinders van nege of 10 jaar oud se slaapgewoontes bestudeer en die gevaarfaktore vir gesondheidstoestande bestudeer.

Netwerk24 het in 2017 oor die bevinding van dié studie berig – die professor het bevind kinders wat te min slaap, is meer geneig om vetsugtig en insulienweerstandig te wees.

“Hierdie bevindings dui daarop dat meer slaaptyd ’n eenvoudige, kostedoeltreffende benadering kan bied tot die vermindering van liggaamsvet en die risiko vir tipe 2-diabetes op ’n vroeë ouderdom,” het Christopher gesê oor die resultate, wat in die joernaal Pediatrics gepubliseer is.

“Potensiële voordele wat met meer slaaptyd in die kinderjare verband hou, kan ook gesondheid in volwasse jare beïnvloed.”

Die Amerikaanse akademie vir pediatrie beveel nege tot 12 uur slaap per nag vir kinders van ses tot 12 jaar aan.

Te min slaap kan teken van depressie wees

Versteurde slaappatrone soos te min of te veel slaap kan ook ’n aanduiding van ander onderliggende gesondheidsprobleme soos ’n geestesiekte wees.

Volgens ’n persverklaring van die Wes-Kaapse departement van gesondheid kan ’n skielike verandering in ’n familielid se slaappatrone ’n teken van depressie wees.

Hierdie individue sukkel ook dikwels om te fokus, is moontlik geïrriteerd en moeg.

Vinnige gewigstoename of -verlies is ook ’n simptoom van depressie.

As jy vermoed jou geliefde ly aan depressie, skakel die Suid-Afrikaanse federasie vir geestesgesondheid (Sadag) se 24-uur-hulplyn by 0800 12 13 14.

Vetsug en slaap-apnee

Te min slaap kan vetsug veroorsaak. Vetsug en ’n ongesonde leefstyl soos rook en alkoholinname kan eweneens tot swak slaappatrone en ’n lewensgevaarlike slaapversteuring genaamd slaap-apnee lei.

Slaap-apnee is wanneer iemand ophou asemhaal terwyl hy slaap – vir ’n paar sekondes tot ’n paar minute op ’n keer.

As jy snork, oorgewig is, gereeld in die nag wakker skrik en ná sewe ure slaap steeds uitgeput voel, kan jy moontlik aan slaap-apnee ly.

Volgens HealthySleep.co.za is ander simptome van slaap-apnee verstikking, nagsweet, hoofpyn in die oggend, geheueverlies, angs en depressie.

Gaan spreek dringend ’n dokter as jy vermoed dat jy snags in jou slaap ophou asemhaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.