Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Trekoskraal-ontwikkeling kry momentum

Die beplanning vir die lang verwagte Trekoskraal-ontwikkeling wat al amper twee dekades woel, tel nou spoed op.

Die eerste konsep-omgewingsimpak verslag vir die voorgestelde Trekoskraal-behuising- en vakansieoordontwikkeling is pas vir kommentaar en hersiening beskikbaar gestel.

Die beoogde projek sal op ’n deel van die plaas Noodhulp nommer 35, sowel as ’n deel van die plaas Trekoskraal nommer 104 en die plaas nommer 961 ontwikkel word.

Die eiendom is ongeveer 10 km wes van Vredenburg en 7 km noord van Jacobsbaai. Die gebied is toeganklik via Minorweg 7655, wat ’n grondpad is, en strek van die ooste by die aansluiting met die R399 vir ongeveer 5 km in ’n westelike rigting tot by die ingang van die ontwikkelingsterrein.

Lang geskiedenis van Trekoskraal se ontwikkelingsaansoeke

’n Ontwikkelingsaansoek is reeds in 2001 ingevolge die regulasies van die omgewingsbewaringswet (1997) ingedien en ’n omvangsbepalingstudie is van 2001 tot 2003 deur Withers-omgewingskonsultante gedoen.

Nadat die regulasies van die omgewingsbewaringswet deur die nasionale omgewingsbestuurswet vervang is, is ’n nuwe ontwikkelingsaansoek ingedien.

Withers het van 2007 tot 2009 weer ’n uitgebreide omvangsbepalingstudie en openbare deelnameproses onderneem. Die finale verslag is in Augustus 2009 aan die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning oorhandig.

Volgens dokumentasie van Guillaume Nel-omgewingskonsultante, die huidige omgewingskonsultant vir die ontwikkeling, is die aansoek uiteindelik deur die aansoeker teruggetrek.

In 2011 het die Saldanhabaai- ruimtelike ontwikkelingsraamwerk bepaal Trekoskraal is ’n landelike nodus, geskik vir toerisme- en natuurgeoriënteerde vakansieoordontwikkeling. Dit is egter in 2018 opgedateer om stedelike ontwikkeling ook toe te laat.

Die Trekoskraalontwikkeling was terug op koers.

Die uitdaging van die beoogde projek is om ’n volhoubare omgewing sensitiewe kusontwikkeling te bewerkstellig.

Wat die ontwikkeling sal behels

Die beplande ontwikkelingsnodes sluit onder meer in ’n kampterrein met 300 kampeerplekke en 150 vakansiewoonstelle, ’n boetiekhotel met 80 kamers, sentrale toerismegebied met winkels, restaurante, 500 verblyfeenhede, stap- en fietsrypaaie, ’n konferensiegerief vir 500 mense, ’n aftreeoord met 225 eenhede binne loopafstand van die sentrale geriewe, parkeerterreine en ’n interne padstelsel.

Lewer kommentaar voor die spertyd

Belanghebbende en geraakte partye word versoek om die eerste konsepomgewingsimpakverslag en geïntegreerde omgewings- en erfenisbestuursplan aanlyn te besigtig by www.gnec.co.za. ’n Gedrukte kopie van die verslag is ook by die Vredenburg-biblioteek beskikbaar.

Kommentaar op hierdie verslag moet voor 10 Mei gelewer word. Die spesialisstudies sal voortdurend opgedateer word en sal binne die 30 dae-kommentaarperiode uitgereik word, waarna die periode dienooreenkomstig aangepas sal word.  

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.