Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tugproses teen suster by kliniek nog nie afgehandel

Suster Sara Thomas, wat al dekades lank by die Louwville-kliniek werk, wag steeds op die uitkoms van ’n dissiplinêre ondersoek nadat sy vroeër vanjaar gevra is om “verpligte verlof” te neem.

Weslander het in April berig dat die klinieksuster tydelik nie by die werk is nie, hangende ’n ondersoek oor medikasie wat glo ongemagtig uitgereik is.

Thomas se dogter, Claudene Fredericks, het Sondag teen haar ma se werkgewer uitgevaar.

“My ma is seergemaak, want sy verdien nie hierdie behandeling nie,” het Fredericks aan Son op Sondag gesê.

“Dít was nou die behandeling wat my ma gekry het vir al die jare wat sy aan die pasiënte opgeoffer het.

“My ma wil nie nou iets sê wat haar saak kan belemmer nie, maar ék glo dat daar gekonkel is om bewyse teen haar te fabriseer en dat haar pos reeds aan iemand anders belowe is.”

Sommige inwoners het ook hul ontevredenheid gedeel en selfs met massaprotesaksie gedreig, sou Thomas nie haar werk behou nie.

Volgens Fredericks is haar ma in April hardhandig deur ’n kollega van die Louwville-kliniek se perseel verwyder.

’n Plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Tania Helfrich, het aan Weslander bevestig dat Sara Thomas ’n saak van aanranding in verband met die genoemde voorval by die Vredenburg-polisie aanhangig gemaak het.

Sy sê egter die dossier is by die Vredenburghof op grond van meriete deur die staatsaanklaer “uitgegooi”.

Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, het Dinsdag aan Weslander geskryf dat die departement “vol vertroue is dat die korrekte stappe volgens protokol (met betrekking tot Thomas se saak) gevolg is.

“Die personeellid se pos is nie geadverteer nie, omdat sy steeds die posisie beklee totdat die dissiplinêre prosedure afgehandel is.

“Om seker te maak dat dienslewering by die kliniek nie onderbreek word nie, help personeel van ander fasiliteite tydelik uit by Louwville-kliniek soos benodig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.