Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Twee moorde en drie verdagtes

Die verpletterde geliefdes van twee moordslagoffers, en veral dié van die drie moordverdagtes, beleef deurlopende trauma nadat amper ondenkbare gruweldade in 2018 in St. Helenabaai gepleeg is.

En nou lê die hooggeregshof voor . . .

Duren Snyders van Laingville, St. Helenabaai, wat sy neef, Danville Don (Witkat) vermoor het, is Donderdag ’n swaar vonnis in die Vredenburg-streekhof opgelê.

Thyronne Williams, ’n gemeenskapsleier van Laingville wat verlede week se hofverrigtinge bygewoon het, het Dinsdag aan Weslander gesê “dit was ’n hartseer dag in die hof. Die Don-familie kon ’n hoofstuk afsluit nadat Witkat baie wreed deur sy eie neef vermoor is. Duren is effektief 22 jaar tronkstraf opgelê. Dit beteken hy kry geen afslag of parool nie.”

Snyders is ook een van die drie beskuldigdes in die Berodine Boyce-moordsaak wat Vrydag 7 Februarie in die hooggeregshof in Kaapstad voortgaan.

Boyce (16), ’n tiener van St. Helenabaai, het op 6 Julie 2018 spoorloos verdwyn. Haar verminkte lyk is op 12 Julie in ’n vlak graf by die Laingville-krieketveld gevind.

Volgens berigte het Snyders daarna glo sy neef, Danville Don (Witkat) doodgesteek omdat hy gedreig het om uit te praat oor Snyders se betrokkenheid by Boyce se dood.

Ná die moord op Witkat het verskeie publikasies, waaronder Die Son op Sondag, oor die moontlike verband tussen die twee moorde berig.

Die polisie het egter vinnig ’n stokkie daarvoor gesteek.

Die Vredenburg-polisie het op 17 Julie 2018 ’n mediavrystelling uitgereik waarin gevra is dat die publiek asseblief nie “ongegronde gerugte” versprei nie.

“Die verdagte wat weens die moord op Danville Don in hegtenis geneem is en in die hof verskyn het, kan nie positief met die moord op Berodine Boyce verbind word nie,” het ’n deel van die verklaring gelui.

Die polisie het op daardie tydstip nog nie voldoende bewyse gehad om Snyders met die Boyce-moord te verbind nie. Die persverklaring is glo uitgereik om moontlike geweld in die ontstoke gemeenskap te help voorkom.

Amper ’n hele jaar later, op 17 Junie 2019, het Weslander berig dat die polisie ’n deurbraak gemaak het en dat drie mans weens die moord op Boyce in hegtenis geneem is.

“ ’n Deeglike en intensiewe ondersoek van byna ’n jaar lank het tot die inhegtenisneming van drie mans van 19, 23 en 28 jaar oud, gelei,” het kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisie-woordvoerder, verlede Junie kort ná die verdagtes se inhegtenisneming aan Weslander gesê.

Weens die sensitiewe en seksuele aard van die klag het die polisie verlede jaar nie die mans se name bekend gemaak nie.

Helfrich het vandeesweek aan Weslander gesê dat hulle steeds nie die name aan die media gaan bekend maak nie.

“ ’n Volledige verklaring sal uitgereik word ná Vrydag se verrigtinge in die hooggeregshof,” het sy Dinsdag gesê.

Weslander het intussen by ’n vertroulike bron verneem dat Snyders wel een van die drie verdagtes in die Berodine Boyce-moordsaak is.

Intussen het vriende en geliefdes T-hemde met Boyce se gesig daarop laat druk om haar saak Vrydag by die hooggeregshof te gaan ondersteun.

Williams het met betrekking tot die moord op Witkat gevra dat die gemeenskap asseblief simpatiek teenoor Snyders se geliefdes moet wees en gevra dat inwoners die gesin in hul gebede moet hou. “Hulle het Snyders nie gestuur om te doen wat hy gedoen het nie,” het hy bygevoeg.

Williams het ook belowe om Maandag 10 Februarie terugvoering oor die hofsaak aan die Laingville-gemeenskap te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.