Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Twee vas ná wilde jaagtog

Rowers wat hulle as werksoekers voorgedoen het, het selfs CV’s by hulle gehad wat hulle aan die bestuurder van ’n onderneming wou wys om hul kamstige werksoekery meer geloofwaardig te maak.

’n Groep rowers, wat hulself as werksoekers voorgedoen het, het Sondagoggend net ná 07:00 op Live Fish Tanks West Coast in Peperbaai, Saldanha, toegeslaan.

Volgens Mario Soares, wat onder meer as ’n walskipper by die maatskappy werk, het die groep rowers vroegdag na die perseel gegaan en aan die personeel wat aan diens was, gesê hulle soek werk.

Soares het Weslander te woord gestaan aangesien die bestuurder van die fabriek, wat ook ’n slagoffer van die roof is, nie beskikbaar was nie.

Toe die personeel aan die vermeende werksoekers sê werk is nie op die oomblik beskikbaar nie, het hulle glo aangedring om met die bestuurder daaroor te praat.

Volgens Soares was die bestuurder op daardie tydstip in sy kantoor.

Die rowers het uiteindelik hul kans aangegryp en die personeel met ’n vuurwapen gedreig. Die bestuurder en die onderneming se vragmotorbestuurder is in die kantoor vasgebind. Die ander werknemers het gaan wegkruip en Soares sê een van hulle het die polisie van ’n maatskappyselfoon af gebel. Volgens Soares is die vragmotorbestuurder herhaaldelik geskop omdat hy teësinnig was om aan die rowers se vereistes te voldoen.

AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het aan Weslander bevestig die rowers het nie daarin geslaag om by die kluis in te breek nie, maar die bestuurder se goue ketting ter waarde van R7 000 is van sy nek af geruk. Hulle het ook sy beursie met R6 000 gesteel en in ’n splinternuwe Volkswagen Golf gevlug. Volgens Soares was die voertuig nêrens te sien terwyl die mans kwansuis werk gesoek het nie. Die Golf het gedurende die roof daar aangery gekom, waarna die rowers ingespring en weggejaag het. Die werknemer wat die polisie gebel het, het die voertuig aan die beampte wat die foon by die polisiekantoor beantwoord het, beskryf.

Kotze sê die polisie het dadelik gereageer en hulle na die rooftoneel gehaas.

“Die polisielede het die Golf herken toe dit uit Peperbaai se rigting verby hulle gery het. Hulle het dadelik hul voertuig omgedraai en agter die Golf aangejaag,” vertel Kotze.

’n Voertuig van die polisie se seegrenseenheid het daarna by die jaagtog aangesluit.

Ooggetuies het die gebeure in Diazweg soos “iets uit ’n film” beskryf.

’n Hoëspoedjaagtog, skreeuende sirenes, flikkerende blou ligte en al, en toe tref die wegkomvoertuig onvermydelik die sypaadjie by Goodhopestraat. Twee van die rowers is deur die polisie vasgetrek, maar die res van die groep het daarin geslaag om uit die motor te spring en met die buit te vlug.

Volgens Soares is een van die mans wat die polisie vasgetrek het, ’n plaaslike inwoner wat voorheen aan ’n konstruksieprojek in die omgewing van die Live Fish Tanks-fabriek gewerk het. Hy sê die polisie vermoed nog ’n plaaslike man is betrokke en die ander rowers kom van Kaapstad af.

Enigeen met inligting word gevra om sers. Donovan Williams, die ondersoekbeampte, by 022 714 8333 te bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.