Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Vandag gaan julle dood’ – toe val houe met asbespyp

“Vandag gaan julle dood!”

Dít was Maandag die woorde van een van die aanvallers van Floors Kotze (71) en een van sy werkers.

Die man het daarna Kotze se werker, net bekend as Chris, met ’n asbespyp aangerand totdat hy bebloed op die vloer gelê het.

Hy het hom toe na Kotze gewend, hom met dieselfde asbespyp aangerand en vir dood gelaat.

Kotze bedryf die kroeg by die gholfklub in Piketberg in die Wes-Kaapse Swartland.

Die voorval het kort ná 15:00 plaasgevind net nadat Kotze en Chris die deure vir sake oopgesluit het.

“Nadat die ou Chris geslaan het, het ek hom gevra wat sy probleem is. Hy het toe gesê: ‘Vandag gaan julle dood’.”

Volgens Kotze het nog ’n aanvaller buite die deur bly staan. Hy het vermoedelik wag gehou.

Die gewapende aanvaller het Kotze daarna van sy beursie en die geld in die kasregister beroof. “Daar was nie baie geld in die kasregister nie; ook nie in my beursie nie. Ek dink hulle het sowat R850 geroof.”

’n Bebloede Kotze het ’n vriendin, Madelein Voges, ná die aanval om hulp gebel.

Haar twee dogters, Dawida en Almarie, wat by haar was, het in ’n motor gespring en na die kroeg gery, berig Warda Meyer. Hulle het die bebloede Kotze in die kroeg aangetref.

“Hy was in ’n plas bloed en sy kollega het ook wonde aan sy gesig opgedoen.”

Voges het ook gesê ’n reeks inbrake by huise in die dorp het onlangs voorgekom. AO Silke Lourens, ’n woordvoerder van die Piketberg-polisie, het nie op navrae oor die bewerings van huisbrake in die dorp gereageer nie.

Kotze en Chris is na die plaaslike hospitaal in Piketberg geneem en is reeds Maandag ontslaan.

Kotze het gister gesê hy voel baie beter. “Dinge kon erger gewees het. Ons is dankbaar ons leef.”

Hy sê hulle ken die mans van geen kant af nie. Hy sê Chris se een oog is feitlik heeltemal toegeslaan en dat hy baie snye en houe oor sy kop, gesig en arms gekry het. “Andersins is ons oukei. Ons moet nog polisie toe gaan waar hulle ons foto’s van mense gaan wys. Miskien is die mans se gesigte onder die foto’s,” sê hy.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê Kotze is van sy beursie beroof en ’n onbekende bedrag geld is ook uit die kasregister gesteel.

’n Sakerooftog-dossier is vir ondersoek aangelê.

“Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en speurders volg alle leidrade op,” het Van Wyk bygevoeg.

Die polisie kon nog nie die tweede slagoffer se volle name bevestig nie.

Enigeen met inligting oor hierdie voorval word versoek om die polisie se Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.