Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vele gesondheidsterugslae kry sanger nie onder

Siekte het al menigmaal as’t ware die handskoen voor Vigeniëa Payne neergevel, maar hierdie dapper vrou is glad nie bang om terug te baklei nie.

Bemoedigende boodskappe het op Facebook vir Vigeniëa ingestroom nadat haar eggenoot, Johan de Vries, laat weet het sy vrou is Maandag in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgeneem en sal binnekort onder die mes wees.

Hierdie alombekende sangeres van die Weskus is onder mediese toesig ter voorbereiding vir ’n operasie waarin dokters Saterdag ’n gewas in haar bors gaan verwyder.

Johan het Dinsdag aan Weslander gesê Vigeniëa het sowat twee maande gelede uitgevind sy het borskanker.

Weslander het in Februarie 2017 berig dat Vigeniëa aan ’n seldsame bloedsiekte ly en dat haar regterbeen moontlik onder die knie afgesit sou moes word.

Dié klein vroutjie met die aantreklike stem het destyds met Weslander gedeel dat haar toestand veroorsaak dat haar are platval en dat sy glo net een van ’n handjievol aangetekende gevalle in Suid-Afrika is, van wie twee reeds gesterf het.

Die are in haar regterarm is reeds met kunsmatige are vervang en verlede jaar het die are in haar regterbeen ook begin platval, wat tot ernstige infeksie in haar voet gelei het.

Amputasie was volgens die dokter onvermydelik, maar Vigeniëa was skepties. Sy wou nie haar been onnodig verloor nie. Sy het ’n tweede opinie ingewin en ná baie trane en gebed is net ’n toon geamputeer.

Volgens De Vries het die pyp wat vir dié operasie in haar keel was, haar tandvleis seergemaak en oor ’n tydperk ná haar operasie het haar tande al losser begin raak terwyl sy baie pyn en ongemak in haar mond moes verduur.

Sy het gaan hulp soek en uitgevind dat bakterieë in haar mond erge infeksie veroorsaak het.

Sy is aangeraai om al haar onderste tande onder narkose te laat verwyder.

Dit was toe die borskanker ontdek is.

Volgens Johan was die tande-verwydering baie suksesvol, maar nou hou hulle asem op vir die borsoperasie.

Die rede waarom sy reeds dae voor hierdie operasie met ’n valkoog in Groote Schuur dopgehou word, is die feit dat sy verdikte bloed het.

’n Hartaanval of beroerte is een van die risiko’s waardeur sy in die gesig gestaar word terwyl sy wag om geopereer te word.

De Vries het verduidelik dat sy vrou medikasie gebruik om haar bloed dun te hou, maar dat sy dit moes staak voor die operasies om lewensbedreigende komplikasies op die operasietafel te voorkom.

Ná die verwydering van die gewas in haar bors sal Vigeniëa vir twee weke bestraling kry.

De Vries is baie dankbaar dat die kanker nie van die “aggressiewe soort” is nie en glo sy lewenslustige vrou sal ten volle herstel.

De Vries sê Vigeniëa is baie positief oor haar situasie, maar sukkel effe met die hospitaalkos omdat haar mond nog seer is. “Sy is mos maar ’n vegtertjie. So ken ons almal haar.”

Sy bedank almal vir hul goeie wense en boodskappe. De Vries hou namens sy vrou al die Facebook-belangstellendes op hoogte.

Vigeniëa het haar eerste album in 2012 bekend gestel. Sy het haar buiging in 2005 op kykNET se musiekspeletjiesprogram, Liriekeraai, gemaak met die album se titelsnit, “Roepstem van ’n visserman”.

Sy sing liedjies in Afrikaans en Engels van bekendes soos Sonja Herold en Jim Reeves en komponeer ook haar eie musiek.

Vigeniëa is ’n bekende gesig en stem in die Weskus se restaurante, spesiale geleenthede en talle vertonings en feeste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.