Wie neem verantwoordelikheid vir verdrinkings en waterveiligheid by plaaslike strande?
Weslander het verlede week berig oor ’n tienerseun wat by Hannasbaai in St. Helenabaai verdrink het en ook melding gemaak van vier ander verdrinkings in Saldanhabaai se munisipale gebied in 2018.
Die munisipaliteit (SBM) het met ’n vorige navraag van Weslander in ’n skrywe verduidelik dat die gebied nie oor “geproklameerde strande” beskik nie. Dis glo waarom die dienste van menseredders nie oor piektye gebruik word nie.
Maar wat is ’n “geproklameerde strand”?
Op gewilde plaaslike strande in Saldanha, St. Helenabaai en Paternoster waar besoekers gereeld vir die dag kom uitspan, het SBM borde opgerig wat aandui watter ontspanningsaktiwiteite verbode is of toegelaat word.
Dui die oprig van hierdie borde dan nie op ’n geproklameerde ontspanningsgebied nie? En is swem tog nie een van die groot redes waarom mense ’n strand besoek nie?
Die borde by die onderskeie strande verbied nie swem nie, maar meld ook nie of dit ’n veilige swemgebied is, aldan nie.
Om morsjorse en raserige dronklappe vas te vat en te sorg dat mense leibande vir hul honde op die strand gebruik, is munisipale wetstoepassing se verantwoordelikheid, maar wat van swemmers en waterveiligheid?
Weslander het die bogenoemde vrae aan die munisipaliteit gestel, maar nog geen terugvoering teen druktyd ontvang nie.
Die munisipaliteit het Dinsdag ’n verklaring uitgereik waarin die sukses van sy vakansiegereedheidsprogram na aanleiding van die onlangse feesseisoen saamgevat is.
Die SBM, in samewerking met onder meer verkeersdienste, die polisie, die departement van vervoer en openbare werke, die Weskus Nasionale Park en die Saldanhabaai-toerismeorganisasie, was deel van hierdie inisiatief.
In die verklaring is “geen verdrinkings” die feestyd as een van die inisiatief se suksesse gelys, maar was een van hierdie partye direk betrokke by die veiligheid vir swemmers in die water?
SBM het in ’n skrywe aan Weslander voor die feesseisoen gesê die sigbaarheid van meer wetstoepassingsbeamptes op strande die feestyd sou volgens hulle minder “voorvalle” tot gevolg hê.
Langebaan se gewildste strande – Kraalbaai en Hoofstrand – is die regsgebied van die Weskus Nasionale Park. Pierre Nel, senior veldwagter by die reservaat, het Dinsdag aan Weslander gesê die aanstelling van menseredders op hierdie strande is ’n paar jaar gelede oorweeg. ’n Kwotasie is aangevra, die betrokke maatskappy het die strande besoek en bepaal dat drie menseredders aangestel moes word. Die reservaat sou salarisse aan die redders moes betaal en verblyf verskaf.
Nel het verduidelik daar was “komplikasies”, onder meer met verblyf, wat die besige feestyd baie skaars is.
Die idee is uiteindelik laat vaar.
Hy is van mening waterveiligheid in die gebied is uiters belangrik en moet meer aandag geniet.
Opedae van die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) se kusbestuurplan is verlede week in verskeie dorpe van sy vyf plaaslike munisipale gebiede gehou.
Die WKDM is tans besig met ’n openbaredeelnameproses hierdie kusbestuurplan te hersien en te wysig.
Volgens Heinrich Robertson, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, poog die kusbestuursplan om die unieke behoeftes binne plaaslike munisipaliteite aan te spreek en ook om beter koördinering van kusaktiwiteite te bewerkstellig.
Hy sê die bestuur van strandgebiede is “uiters kompleks” omdat nie net die munisipaliteite nie, maak ook verskeie regeringsdepartemente, daarby betrokke is.
’n Voorval van rooigety is byvoorbeeld die regsgebied van verskeie owerhede, terwyl ander strande of take en verantwoordelikhede binne die jurisdiksie van die departement van waterwese of die departement van openbare werke val.
Robertson sê die bevordering van waterveiligheid in die gebied is baie belangrik omdat toerisme ’n groot rol in die ekonomie van WKDM se plaaslike munisipaliteite speel.
Die WKDM in samewerking met die plaaslike munisipaliteite finansier tans ’n waterveiligheidinisiatief van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) wat poog om verdrinkings op die Weskus te verminder deur skole te besoek en kinders met waterveiligheidwenke te bemagtig.
James Brend-Styan, woordvoerder van Anton Bredell, die provinsiale minister van plaaslike regering, het bevestig die ministerie skenk jaarliks ’n bedrag geld aan die NSRI en LifeSaving South Africa, twee nieregeringsorganisasies sonder winsbejag, om hulle te ondersteun in hul onbaatsugtige vrywillige werk om mense se lewe te red.
Die NSRI se Mykonos- en Lambertsbaaitakke het oor die jare talle mense uit plaaslike waters gered wat met hul bote, seiljagte en vlieërplanke in die moeilikheid beland het.