Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vermeende betogers ‘uit bed geruk’

Inwoners van Laingville sê hulle leef met die vrees dat hulle volgende in die nag uit hul beddens gepluk sal word.

Talle inwoners het Maandag by die Vredenburg-landdroshof opgeruk vir die eerste verskyning van sewe Laingvillers. Dié verdagtes is verlede week aangekeer in verband met die maande lange protesaksie wat in die buurt plaasgevind het.

“Dit voel asof die polisie ons uittart. Ons het na die polisiekantoor gegaan om onsself te oorhandig, maar hulle wou niks weet nie. Dan kom hulle in die nag om ons kinders in hegtenis te neem,” het ’n Laingviller by die hof aan Weslander verduidelik.

Inwoners was Maandagoggend ontstoke nadat Nigel Samuels, regsverteenwoordiger van die beskuldigdes, laat weet het twee van die sewe verdagtes het Covid-19-simptome en sou nie in die hof verskyn nie.

’n Familielid van Gershwin Fortuin, een van die verdagtes, sê sy ma is ’n senuweewrak ná haar seun se inhegtenisneming. “Hy het nie eens behoorlike klere aangehad nie, hy was kaalvoet toe hulle hom vat. Sy ma is in ’n toestand. Die beamptes het sommer oor die hek gespring en hom rondgepluk,” sê die familielid, wat uit vrees vir viktimisering nie geïdentifiseer wil word nie.

Clarence Duiker, ’n gemeenskapsleier, sê die gebrek aan kommunikasie tussen die gemeenskap en die St. Helenabaai-polisie is die grootste struikelblok.

“Inwoners het Woensdag na die polisiekantoor gestap om met die stasiebevelvoerder en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum oor die inhegtenisneming te praat. Ons het verduidelik as hulle mense in hegtenis wil neem, moet ons eintlik almal opgesluit word,” sê Duiker oor die onlangse vergadering.

Dit was net ure daarna – vroeg Donderdagnag – toe die St. Helenabaai-polisie verskeie verdagtes in hegtenis geneem het. ’n Matrikulant is glo in die proses beseer.

Weslander het ’n navraag aan die polisiekluster oor die gemeenskap se bewerings gerig, maar is meegedeel geen kommentaar sal op hierdie tydstip verskaf word nie.

Die sewe verdagtes sal na verwagting vandag (Donderdag) op ’n aanklag van openbare geweld in die hof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.