Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verwagtings oortref

Gemoedere was nie dieselfde onder die matriekleerders soos vorige jare nie.

Die klas van 2020 het Dinsdag 23 Februarie by hul onderskeie skole aangemeld om hul matriekuitslae te ontvang.

Die matriekuitslae, wat gewoonlik net ná die nuwe jaar bekend gemaak word, is weens die ontwrigtende uitwerking wat die Covid-19-wêreldpandemie op die 2020-skooljaar gehad het, eers vandeesweek – byna twee maande later as gewoonlik – vrygestel.

Skole moes Covid-19-protokol handhaaf en net ’n sekere aantal leerders kon op ’n keer hul uitslae ontvang.

Aangesien matriekleerders hul jaareindeksamen in die pandemie moes skryf, het talle gemengde emosies gehad oor hoe die eksamen sou afloop.

Elrie Bester van die Hoërskool Vredenburg was heel geskok toe sy haar uitslae oopgemaak het. Sy het nie verwag haar punte sou só goed wees nie. “Dit is beter as wat ek verwag het, en ek is blyer as bly. Al die harde werk wat ek vir die eksamen ingesit het, wys gewis,” het sy aan Weslander vertel.

Tairique Cloete se gesig was helder van die trots. “Ek voel wat ek gekry het, het ek verdien, want ek het hard gewerk.” Cloete is op dieselfde dag deur verskeie universiteite aanvaar en sal nou besluit waarheen hy wil gaan.

Volgens Avril Daniels, kringbestuurder van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) se kantoor in Vredenburg, was die voorspelde slaagsyfer vir die hele Weskusstreek – van Malmesbury tot Vredendal – 88%. Nadat die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika uitgebreek het en skole lank gesluit is, het die WKOD voorspel die slaagsyfer sal 80,1% wees. Die ware matriekslaagsyfer vir 2020 is egter 82,2%, maar heelwat laer as die voorspelling voor die pandemie, dog effens hoër as die voorspelling wat Covid-19 in ag geneem het.

Die staatskole in die Vredenburgkring naamlik die hoërskole Vredenburg, Weston, Diazville en Hopefield, se matriekslaagsyfer het almal gedaal teenoor die 2019- akademiese jaar, maar Daniels sê die WKOD het dit verwag.

Net die Hoërskool Louwville, die hoërskool in die kring wat gewoonlik die swakste presteer, se slaagsyfer het gestyg. “Ons monitor hierdie skool deurlopend en bied ondersteuning. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat hierdie skool verbeter,” het Daniels verduidelik.

“Die gehalte van die uitslae is vir die WKOD ook uiters belangrik. Ons kan daarvan getuig dat daar heelwat meer leerders in die kring is wat universiteit toe kan gaan, in vergelyking met die vorige jaar.”

Al vyf hoërskole het bo die nasionale maatstaf van ’n 60%-slaagsyfer presteer. Slegs Louwville het onder die provinsiale maatstaf van 70% gevaar. Louwville is ook die enigste skool wat nie ’n A-kandidaat-matrikulant opgelewer het nie.

Weston en Diazville, wat nie gereeld A-kandidate het nie, het verras met onderskeidelik een A-kandidaat elk.

“Dit is vir ons werklik verblydend om te sien dat daar leerders is wat ten spyte van baie moeilike huislike omstandighede en die pandemie, steeds puik presteer het,” sê Daniels.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.