SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Visplaas beplan vir Elandsbaai

Cape Nordic Corporation (CNC) wil ’n landgebaseerde salmplaas met ’n beleggingskoste van R1 miljard op die plaas Bottelfontein, 22 km suid van Elandsbaai, vestig.

Planet Capital (PC) is die omgewings­konsultant verantwoordelik vir die basiese omgewingsondersoek met betrekking tot hierdie beplande projek. Dit word gedoen ingevolge die nasionale omgewings­bestuurswet (NEMA).

’n Agtergronddokument is saamgestel om belanghebbendes en partye wat geraak word in te lig oor die voorgestelde ontwikkeling as deel van ’n openbaredeelnameproses.

Wat die projek behels

Volgens die bogenoemde dokument sal die projek in drie fases ontwikkel word. Die eerste fase sal ’n geraamde 11 800 ton vis per jaar lewer waarna daar in fase twee en drie na sowat 5 400 ton vis per jaar uitgebrei sal word.

Dié projek sal ’n oppervlakte van 7,5 hektaar beslaan, wat die minimum­groottevereiste vir hierdie soort ontwikkeling is om lewensvatbaar te wees.

Volgens CNC is die Weskus die enigste kusgebied in Suid-Afrika wat die geskikte watertemperatuur vir visplaasontwik­keling bied. Geen verdere energieverbruik is nodig om die water af te koel nie.

Die voorgestelde akwakultuur­ontwikkeling beoog om die nuutste tegnologie te gebruik soos, onder meer ’n binnenshuise hersirkulerende akwakultuurstelsel vir die produksie van Atlantiese salm en seewaterforel.

Water sal so ver as moontlik deur meganiese, biologiese en chemiese filtrasie en hergebruik bespaar word.

Minder negatiewe gevolge as met oophok-visplase

PC noem ook in hierdie dokument dat dit belangrik is om onderskeid te tref tussen hierdie voorgestelde land­gebaseerde boerdery en die “omstrede en problematiese oophoksalmplase wat vir Saldanhabaai voorgestel is en aansienlike teenstand gekry het,” lui ’n gedeelte uit hierdie verslag.

“Die binnenshuise hersirkulerende akwakultuurstelsel maak voorsiening vir streng beheer van die watergehalte. Die potensiële negatiewe gevolge wat met die oophokvisplase in die see verband hou, soos besoedeling van waterkolomme en die seebodem deur voer en ontlasting, die moontlike verspreiding van siektes aan inheemse visbevolkings en die ontsnapping van vis, word uitgeskakel met die voorgestelde binnenshuise stelsel.”

Klein windplaas sal energie verskaf

Volgens die agtergrondverslag sal CNC sover moontlik van hernubare energie gebruik maak.

Daar word beoog om ’n klein windplaas van ses windturbines (12 MW), en sonpanele vir hierdie doel op te rig.

Slegs twee windturbines sal gedurende die eerste fase opgerig word. Die beplande hoogte vir die windturbines is 125 m van die basis tot by die hoogste punt van die rotorlemme.

Werksgeleenthede

Na raming sal ongeveer 40 direkte, plus minstens 50 tot 70 indirekte poste per fase geskep word. Dit sal verband hou met verwerking en verspreiding wat uitgekontrakteer sal word.

Sodra al drie die fases voltooi is, sal ongeveer 66 tot 99 nuwe permanente werkgeleenthede geskep word en ’n geraamde 150 tot 210 indirekte poste.

Openbaredeelnameproses

’n Openbaredeelnameproses het 13 November begin en sluit 13 Desember. Gedurende hierdie tyd is die voorlopige konsepaansoek se assesseringverslag en agtergrondinligtingsdokument, wat ook meer lig op die bevindinge van spesialisondersoeke werp, vir bestudering by Velddrif-, Dwarskersbos- en Elandsbaai-biblioteek beskikbaar.

Openbare vergaderings het 28 Oktober, asook 13 en 14 November plaasgevind.

 ’n Aangepaste konsepverslag sal vroeg in die nuwe jaar saamgestel word. Hierdie dokument sal kommentaar, griewe en voorstelle van die publiek en geraakte partye bevat sowel as die finale bevindinge van spesialisondersoeke.

Daarna sal die publiek weer geleentheid kry om kommentaar te lewer, voordat hierdie dokument aan die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning vir goedkeuring voorgelê sal word.

Die openbaredeelnameproses sal in plaaslike en provinsiale koerante geadverteer word.

. Vir nog inligting of om as geraakte party te registreer, bel Cheruscha Swart by 081 551 4323, Christine Coetzee by 083 325 9966 of dr. Muller Coetzee by 083 325 8732 of stuur ’n e-pos na muller.coetzee@planet.capital

Die genoemde dokumente is op capenordic.co.za te sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.