Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vissers vies oor p’lemoen

Die Saldanha-polisie het verlede week op meer as R70 000 se perlemoen afgekom en die vonds het talle vissers die josie in.

Lede van die plaaslike polisie het Vrydag 2 Augustus ’n opsporingsoptrede uitgevoer wat hulle na ’n plakkershut in Marikana, Middelpos, gelei het. Hier het hulle twee mans net 203 eenhede perlemoen aangetref.

Volgens AO Yolanda Kotze is die straatwaarde van dié vonds R71 122,50. “Die twee verdagtes, onderskeidelik 28 en 33 jaar oud, is in hegtenis geneem,” sê sy.

Traffic, ’n internasionale moniteringsnetwerk vir natuurlewe-handel, het in September verlede jaar navorsing gepubliseer wat aandui dat perlemoenstropery as bedryf byna R888 miljoen per jaar beloop.

Talle Weskussers het die plaaslike polisie gelukgewens met hul vonds en sê dit is juis stropers wat keer dat volwaardige vissers kos op die tafel kan sit. “Bliksems, dit is deur sulke dinge dat kwotas nie uitgereik word nie,” meen een Weslander-leser.

“Baie bly hulle is gevang. Ons wat bereid is om vir permitte te betaal, mag dan nie eens een uithaal nie en die stropers verydel dit so,” sê ’n ander.

Weslander het by ’n plaaslike wetstoepasser gaan aanklop om te hoor wat die stand van sake aan die Weskus is. “Dit kan jou buurman wees wat stroop en jy sal dit nie eens weet nie,” sê die kundige, wat anoniem wil bly. Hy sê perlemoenstropery vind in ’n gesofistikeerde, georganiseerde netwerk plaas wat alles van dwelmhandel en gesteelde voertuie tot onwettige vuurwapens insluit.

“Hierdie stropery is makliker om op te let in die Suid-Kaap. Indien enigiemand daar met ’n rubberboot uitgaan, moet jy weet dis stropery, maar aan die Weskus kan dit regtig enigiemand wees wat uitgaan. Daarom is een van die belangrikste dele van die bekamping van stropery om informante te hê. Mense wat enigiets verdag opmerk, moet wetstoepassers daarvan bewus maak om die bedryf te help stopsit.”

Die twee verdagtes het intussen op ’n aanklag van die besit van perlemoen in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.