Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Voges sal vandag sê oor huise

Inwoners van Witteklip, Vredenburg, het Vrydag die gure weer trotseer en ’n optog na Saldahabaai-munisipaliteit se kantore in Hoofstraat gehou.

Hier het agterplaasbewoners ’n memorandum aan die munisipale bestuurder, dr. Pierre Voges, oorhandig.

Een van die optoggangers het aan Voges gesê: “Selfs varke het grond waar­op hulle kan woon. Hoekom kan daar nie voorsiening gemaak word vir ons nie?”

Volgens Simphiwe Jaggers, voorsitter van die Witteklip-gemeenskapsforum, kom die optog ná vele mislukte pogings om met munisipale amptenare te vergader.

Die forum, wat in April op die been gebring is, se mandaat is om ’n beter lewe vir inwoners van die gebied te verseker en dit sluit onder meer in: beter behuising, beter dienslewering deur die munisipaliteit en ander uitdagings vir inwoners.

Jaggers sê die inwoners weet die nasionale en provinsiale regerings is verantwoordelik vir behuising, maar hy meen die munisipaliteit doen nie genoeg om die regeringsfere aan te por nie. Hy meen ook die geld wat wél vir behuising beskikbaar gemaak word, word nie optimaal bestee nie.

Die Witteklip-gemeenskapsforum wil dit duidelik maak dat die optog nie polities gemotiveerd is nie. “Ons praat nie meer met politieke leiers nie, want niks word gedoen nie. Ons probeer nou maar om met die administratiewe amptenare te werk en hopelik sal ons pleidooie gehoor word,” sê Jaggers.

Dié pa van ’n twee weke oue babaseun is self ’n agterplaasbewoner op sy oom se erf. Hy, sy vrou en die baba deel ’n wendyhuis met sy broer en sy gesin. Jaggers vertel dat hy elke oggend 05:00 die toilet in sy oom en tannie se tweevertrekhuis moet gaan gebruik en hier in die 2 x1 m-toilet moet hy ook, terwyl die oom, tannie en hul vier kinders in hul kamer slaap, homself was in ’n emmer water om betyds by die werk uit te kom.

Jaggers, wat reeds drie jaar van sy regsgraad voltooi het, vertel hy het die geboorte van sy seun misgeloop omdat hy ’n behuisingsvergadering saam met amptenare moes bywoon. Slegs een amptenaar het opgedaag. “Ek wil net ’n beter lewe hê vir my kinders. Dis hoekom dit vir my so belangrik is.”

Dit is volgens die forum die tweede memorandum wat aan Voges oorhandig word – die eerste een is op 17 Mei aan hom oorhandig. Hy het dit onderteken en belowe om binne sewe dae terugvoering te gee. Tot op hede het die forum geen terugvoering ontvang nie.

Volgens Jaggers het die speaker van die raad die forumlede ontbied nadat hulle aansoek gedoen het om ’n optog te hou.

“Op die vergadering het sy ’n belofte gemaak dat topbehuisingsamptenare die gemeenskap op 18 Junie sal kom toespreek in die Witteklip-gemeenskapsaal. Daar het een amptenaar opgedaag en weereens het ons niks terugvoering gekry nie.”

Volgens Jaggers is die forum ook al deur die munisipaliteit gevra om inligting in te samel van al die agter­plaasbewoners in die gebied, wat hulle ook gedoen het.

Van die uitdagings wat dié bewoners in die memorandum noem, is: onbekostig­bare huur, onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, veiligheid, gebrek aan sanitasie en geen deursigtigheid as dit kom by die koste van dienste nie.

“Huiseienaars kan enigiets vra, ons is desperaat en word uitgebuit, want wat kan jy doen?” het Jaggers bygevoeg. Die bewoners sê hulle sal ook tevrede wees met ’n gedienste erf, waar hulle self huise kan oprig.

Voges het die betogers buite die munisipale geboue toegespreek en belowe dat hy en die direkteure vandag (Donderdag) terugvoering aan die gemeenskap sal gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.