Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vredenburg se ashoop byna vol

Alle vulliswa-paaie lei na Vreden­burg se stortingsterrein.

En dié stortingsterrein, die enigste operasionele een binne die grense van Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), het minder as ’n jaar oor voor dit vol is.

Al die ander dorpe binne die munisi­pale gebied beskik slegs oor oorlaaistasies van waar die vullis na die Vredenburg-stortingsterrein geneem word, ’n stor­tings­terrein wat so te sê maksimum kapasiteit bereik het.

Enigste stortingsterrein vol – hoe nou gemaak?

Ethne Lawrence, die woordvoerder van SBM, het vandeesweek in haar skrywe aan Weslander verduidelik dat Vreden­burg se stortingsterrein op “meeste plekke hoogte bereik het”.

“Saldanhabaai-munisipaliteit is tans besig met die nuutste opmetings met betrekking tot die hoeveelheid ruimte wat nog beskikbaar is,” het sy bygevoeg.

Volgens die laaste opmeting in November 2018 het die verslag bepaal dat daar 304 173 m³ ruimte op die terrein beskikbaar was.

Die tweesak-herwinningstelsel het van April 2016 tot op hede ongeveer 69 512 m³ ruimte by die Vredenburg-stortingsterrein gespaar.

Ongeveer 225 ton herwinbare materiaal kan maandeliks by Vredenburg se herwinningsaanleg verwerk word. Tans word sowat 200 ton materiaal hanteer. Hierdie syfer kan verhoog as inwoners hul deel doen om te herwin. Een voerband word by die aanleg gebruik, maar ’n tweede voerband sal eersdaags geïnstalleer word en die verwerkings­kapasiteit heelwat verhoog.

Lawrence sê ook die kontrakteur, Martin & East, is besig met die bou van ’n nuwe stortingsterrein vir Vredenburg – reg langs die huidige terrein wat reeds baie naby aan sy vervaldatum is.

Die nuwe terrein sal, as alles volgens plan verloop, teen die einde van die jaar voltooi wees terwyl die ou Vredenburg-stortingsterrein gerehabiliteer sal word.

Volgens Lawrence sal die nuwe Vredenburg-terrein ’n leeftyd van 11 jaar hê, maar dit kan verder met drie tot sewe jaar verleng word as voldoende herwinning plaasvind.

Nuwe oorlaaistasie vir Langebaan

Verder is Martin & East ook besig met die rehabilitering van Langebaan se ou stortingsterrein.

Langebaners sal nie weer in die toekoms hul eie stortingsterrein hê nie, maar wel ’n splinternuwe oorlaai­stasie wat gebruik sal maak van groot­maat­houers om verskillende afval­materiale te stoor waarna dit na Vreden­burg se stortingsterrein geneem sal word.

Die oorlaaistasie en die rehabilitering van Langebaan se voormalige stortings­terrein, sal volgens beplanning ook teen einde 2020 voltooi wees.

Langebaan se nuwe oorlaaistasie is aangrensend aan die ou stortingsterrein, links van die verbindingspad tussen die R27 en die dorp, rigting Langebaan se kant toe, voor die Olifantskop-afdraai.Herwinning is die toekoms van Saldanhabaai

Die gratis deur-tot-deur-herwinnings­dienste en tweesak-stelsel van SBM, wat sedert 2016 in werking is, het einde 2019 die groen lig gekry om die volgende drie jaar met die projek voort te gaan.

Tot op hede het meer as 7 500 huishou­dings uit al sewe dorpe in die munisipale gebied aan die program deelgeneem.

Benewens groot hoeveelhede herwinbare materiaal wat te danke aan die projek nie op die stortingsterrein beland het nie, is “46 werkgeleenthede vir ons plaaslike gemeenskap geskep”, sê David Wright, senior bestuurder van vaste afval en grootmaat watervoorraad by SBM.

Meer inwoners moet herwin

Volgens Lawrence moet inwoners hul huishoudelike afval weekliks in hul munisipale groen drom vir die vullisverwyderaars uitsit.

Alle grootmaat afval wat nie in dromme pas nie, moet na die naaste oorlaaistasie of die stortingsterrein geneem word.

Inwoners moet hul herwinbare materiaal (plastiek, glasbottels, papier) weekliks in die deurskynende sak plaas wat hulle ontvang.

Hierdie sak kan dan saam met of bo-op die groen drom buite die perseel geplaas word, vir verwydering.

Bewusmakingsveldtog

“As die publiek goeie samewerking gee en almal neem deel, sal die herwinning­syfer baie verbeter. Daar is deurlopend bewusmaking nodig,” sê Lawrence.

SBM se bewusmakingsveldtog vir herwinning behels advertensies in die media, kennisgewings en video’s op sy webtuiste en die uitgee van kwartaallikse herwinningsbeginpakkette aan huishoudings wat nog nie aan die projek deelneem nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.