Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vriende inspireer met goeie nuus

’n Verfrissende windjie van positiewe verandering waai aan die Weskus.

Die vars nuwe briesie kry gestalte in die vorm van video’s wat goeie nuus op sosiale media versprei. Die naam van hierdie reeks video’s is Weskus Windjie en die passievolle windmaker, oftewel verskilmaker, is Israel Thys (31), ’n onderwyser by Panorama Primêr in Vredenburg. Thys en sy goeie vriend Shameel Retief (30) werk saam aan die amateurvideo’s wat hulle op Thys se Facebookblad, Upper Room Media, publiseer.

Upper Room Media is ’n Facebookblad met ’n Christelike aanslag. “Ek is nie ’n pastoor of ’n dominee nie; net een van die broers by my kerk. Maar God het gesê elkeen van ons moet ’n lig in die donker wêreld wees. Daarom wil ek my deel doen,” sê Thys.

Hy vertel dat die haat, geweld, tragedie en hartseer aan die Weskus hom moedeloos en teneergedruk gelaat het.

“Ons hoor so min van die mense in ons gemeenskap wat mooi dinge vir ander doen, daarom het ek besluit om ’n slag die goeie nuus met almal te deel.”

Weskus Windjie behels besoeke aan mense wat ’n verskil in die gemeenskap maak. Thys voer die onderhoude, terwyl Retief kameraman speel. Retief, ’n grafiese ontwerper wat ’n klein ontwerp- en drukwerkwinkel van sy huis in Louwville af bedryf, is vir die tegniese versorging van die video-materiaal verantwoordelik.

School of Knowledge, wat plaaslike kinders uit die dodelike kloue van dwelmverslawing probeer red, en Xplicit Learning, ’n program wat poog om die vrees uit wiskunde as skoolvak te neem, is sommige van die onderwerpe wat op die video’s bespreek word.

Ook het Thys ’n onderhoud met die oudgevangene Aswill Jooste gevoer wat onlangs ’n boek uitgegee het waarin hy sy lewensverhaal vertel. Met hierdie boek, Bullet: The Path to Revenge wat oor bendegeweld, wraak en die lewe in die tronk handel, wil Jooste jongmense help om beter keuses te maak en die slaggate waarin hy as tiener getrap het, te vermy.

Thys het die Upper Room Media-blad in Desember 2018 geskep en begin deur positiewe daaglikse boodskappe en video’s met sy Facebook-vriende en -volgelinge te deel. Daarna het sy reeks video’s, Broodbreek, gevolg waarin hy met verskillende geestelike leiers aan die Weskus gesels.

Toe Weskus Windjie gebore is, het dit gou duidelik geword dat hierdie reeks video’s van Upper Room Media se sterk spirituele aanslag geskei moet word.

“Daarom gaan Weskus Windjie binnekort sy eie Facebook-blad kry,” vertel Thys.

“Met die video’s wil ek wys daar is ’n tikkie goed in elkeen van ons; dit moet net aangewakker word.”

Thys nooi die gemeenskap om hul goeienuusstories te deel. Bel hom by 071 985 1890.Pitkos vir die siel: Baie mense probeer hul lyf gesond hou deur die regte kos te eet en te oefen, maar wat van die siel? Kenners reken dieet is nie net wat ons eet nie, maar ook wat ons kyk en lees. As meesal negatiewe en slegte nuus ingeneem word, word ’n mens terneergedruk.

Daar is soveel geweld en hartseer om ons dat ’n mens maklik kan vergeet dat talle mooi, dikwels ongesiene dinge, ook gebeur. Daarom nooi Weslander Weskussers om hul goedvoelstories met ander te deel. Stuur jou storieaan Weslander se WhatsApp-nommer by 082 576 0453. Stories sal op meriete vir die koerant gekies word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.