Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vroulike ‘slagoffer’ nie altyd so onskuldig

Geweld teen vroue, veral in gesinsverband, is een van die Weskus se grootste euwels.

’n Plaaslike polisiebron sê egter hierdie enorme maatskaplike probleem het ’n ander donker kant wat sommige vroue effe skuldiger laat lyk as die slagoffers wat hulle voorgee om te wees.

In die gees van die jaarlikse 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, wat Sondag 25 November begin het, het Weslander met sers. William Munnik, ’n woordvoerder van die Redelinghuys-polisie, gaan gesels oor die misbruik van die Wet op Gesinsgeweld (Wet 116 van 1998) en die hartseer gevolge daarvan.

Vroue laat onskuldige mans toesluit sodat hulle kan jol

Sers. Munnik sê geweld teen vroue word altyd in ’n ernstige lig gesien, maar in sy loopbaan, wat oor 25 jaar strek, het hy menigmaal gesien hoe vroue die wet vir eie gewin misbruik.

Hy sê dis ’n algemene verskynsel dat vroue die polisie op ’n Vrydagmiddag bel wanneer hul mans wat in die week op plase werk, huis toe kom. “Hulle beweer dan die man het hulle gevloek of geslaan sodat die polisie hom moet toesluit vir die naweek,” verduidelik Munnik. Hulle misbruik ook glo beskermingsbevele op dieselfde manier.

“In baie van hierdie gevalle is die man onskuldig, maar die vrou wil hom nie by die huis hê nie want sy onthaal ’n skelmpie.”

Ook sal vroue glo hul lewensmaats laat toesluit sodra hy Vrydagmiddag sy salaris ontvang. Die vrou sal dan die geld oor die naweek uitgee en teen Maandag wanneer hy in die hof verskyn en vrygelaat word, moet hy weer op die plaas gaan werk en is sy ontslae van hom.

“Dis juis weens hierdie misbruik wat ons nie sommer net meer ’n man in hegtenis kan neem wanneer sy vrou sê daar is moeilikheid by die huis nie.”

Volgens Munnik moet hulle as polisiebeamptes sedert twee jaar gelede eers die omstandighede by die huis gaan ondersoek en na goeddunke ’n besluit neem.

“Mans wat hulself aan geweld skuldig maak, gee voor daar is niks fout as die polisie by die huis aankom nie of sê hy en sy vrou het hul ‘misverstand’ uitgepraat. Sodra die polisie wegry, word sy nog erger aangerand. Dis soms regtig moeilik om te oordeel wat agter geslote deure aangaan,” erken Munnik.

Tienermeisies beweer hulle is verkrag om die Morning After-pil te kry

Volgens Munnik is dit baie algemeen dat tienermeisies oor verkragting jok. Hulle het instemmende omgang met mans en is dan so bang dat hulle swanger sal raak, dat hulle ’n klag van verkragting by die polisie aanhangig maak om gratis ’n pil te bekom wat swangerskap ná die seksdaad verhoed.

Hierdie soort pil staan in die volksmond as die Morning After-pil bekend.

“Die meisies sien nie kans vir al die ongemaklike vrae by die kliniek nie en voel dit sal makliker wees om eerder te sê hulle is verkrag. Die verkragter is kamstig iemand wie se gesig hulle nie kon sien nie, maar as ons begin uitvra oor die kêrel en sê ons gaan hom ook toets, trek hulle vinnig die saak terug. Dit is ’n ongelooflike vermorsing van die polisie se tyd en beperkte hulpbronne.”

Munnik vertel ook vroue of meisies wat MIV-positief is, sal beweer hulle is verkrag om toegang tot antiretrovirale medikasie te kry.

Hy sê hoewel die staat hierdie medikasie gratis verskaf, is net ’n beperkte voorraad beskikbaar. ’n Stigma wat aan MIV kleef, is dat mense wat positief getoets is, losbandig leef. Hulle vermy veroordeling deur hul ouers, gesinne en die gemeenskap deur eerder te sê hulle is verkrag.

Die wet beskerm nie mans teen vroue wat lieg oor verkragting nie

“Dis ongelukkig waar. Die wet is ontwerp vir werklike gevalle en voorsiening is nooit gemaak vir vroue wat blatante leuens vertel nie,” sê Munnik. Hy sê meisies of jong vroue drink dikwels te veel en het omgang met mans by ’n partytjie. Die volgende oggend is hulle spyt oor die daad of bang hul kêrel of ouers vind daarvan uit. Hulle gaan lê dan ’n klag van verkragting by die polisiekantoor.

“Soms is daar geen tekens van geweld ná verkragting nie. Sodra die dokter bepaal die seksdaad het wel plaasgevind, ongeag of dit instemmend was, moet ons die man in hegtenis neem. Sý reputasie ly steeds skade, al blyk dit later die vrou het gelieg. Die media wat oor die verkragting berig het, gaan nie noodwendig daarna oor sy onskuld berig nie.”

Iemand wat van verkragting aangekla is, mag nie volgens die wet borgtog kry nie. “Hy sal die landdros moet oortuig met bewyse waarom hy vrygelaat moet word, soos dat sy besigheid in duie sal stort as hy nie daar is nie en dat mense hulle werk gaan verloor. Hy kan maklik in aanhouding bly tot die saak klaar is, wat soms ’n jaar of meer kan wees. Die man kan ook vir sowat agt dae aangehou word terwyl die borgtogaansoek voorberei word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.