Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wat lees skrywers dié vakansie?

Net soos die Weskus se rykdom van kunstenaars, beskik die gebied ook oor talle kranige skrywers wat deur die mooi natuurskoon geïnspireer word om hul gedagtes neer te pen.

Weslander het vier plaaslike skrywers gekies en hulle gevra oor die leesstof op hul vakansieboekrak.

Lokkie van Zyl, Velddrif–storieverteller met ’n liefde vir geskiedenis en taal Oor Lokkie se werk: Lokkie van Zyl (80), ’n boorling van Velddrif, is die skrywer van Velddrif se Stories (2015).

Die boek is ’n geskiedkundige terugblik op Velddrif, die plek waar die Weskus en Sandveld bymekaarkom – en ’n plek waar die Van Zyl-familie al geslagte lank boer.

“Omdat my familie se geskiedenis en leefwyse so tiperend is van wat hier aan die Weskus gebeur het, word ons verhaal as ’n deurlopende draad (in die boek) gebruik,” verduidelik sy.

Van die kontrei se voorgeskiedenis, die storie van Carl Stephan, grondlegger van Laaiplek, die Afrikanerpioniers van die Weskus tot die seetragedies word in Velddrif se Stories vervat.

Lokkie se eerste boek, Boegoebergdam se mense, het in 1997 verskyn en het al sy derde druk beleef.Waaraan werk jy nou?

“Ek is besig met ’n boek genaamd Winstead, die naam van ons familieplaas by Groblersdal teen die Oranjerivier.

“Daar was ’n groot veldslag op ons plaas in die tyd van die Maritz-rebellie (1914). Winstead het ook destyds aan ’n skatryk man genaamd Charles Newberry behoort. Newberry was ’n invloedryke aandeelhouer saam met sy broer John in die Cecil John Rhodes-mynmaatskappy wat later De Beers geword het. John het later ’n direkteur van die nuutgestigte De Beers geword.

“Charles het ’n wal in die Oranjerivier gebou en turbines aangebring om water uit die rivier weg te lei vir persoonlike gebruik. My man het die turbines omskep sodat dit elektrisiteit kan opwek. Dit het baie goed gewerk, maar ná ’n verwoestende vloed was die skade so groot dat ons nie kans gesien het om dit reg te maak nie.”Wat lees jy op die oomblik?

“Die afgelope paar jaar verslind ek hope Afrikaanse leesstof, want op my ouderdom gaan ’n mens se woordeskat maklik agteruit as die brein nie geoefen word nie. Een van my gunsteling- Afrikaanse skrywers is Elsa Joubert.

“Teenstrydig hiermee lees ek deesdae baie Engelse boeke, veral deur Jeffrey Archer. Ek is gek oor sy werk en hier is ’n hele reeks van sy boeke wat ek deurwerk. As ek lees, sit ek in my gemakstoel met ’n pragtige uitsig oor die Bergrivier.”

Dana Snyman, Jacobsbaai – bekroonde skrywer, joernalis en dramaturg

Oor die jare het Dana Snyman hom as ’n uitmuntende storieverteller bewys. Ná sy dae as joernalis by Huisgenoot en Weg! word sy eerste boek, Uit die binneland, by Human & Rousseau gepubliseer en dis dadelik ’n blitsverkoper. ’n Hele paar bundels het oor die jare uit Dana se pen verskyn.

In 2008 waag Dana ’n heerlike sprong toe die akteur Frank Opperman hom nader om vir hom ’n eenmanstuk te skryf. Die Uwe Pottie Potgieter was ’n dawerende sukses en is intussen opgevolg deur Wyk 14, Rooi Kaart en Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade.Waaraan werk jy nou?

“Ek werk aan my nuwe boek , Woes Alleen wat teen middel 2019 uitgegee word.”Wat lees jy op die oomblik?

  • “Ek lees

“Ook is ek besig met 21 Lessons for the 21st Century deur Yuval Noah Harari, ’n boek wat die leser help om die moderne wêreld te verstaan.”

Annchen Weidemann, Vredenburg – spesialis-dieetkundige en akademiese skrywer

Annchen is die skrywer van Periodic Fasting, saam met Annaret Brand. Die boek handel oor die gesondheidsvoordele van die opspraakwekkende periodieke vas-leefstyl. Een van die voordele van hierdie eetwyse is volhoubare gewigsverlies. Die boek bevat ook heelwat heerlike resepte om verslankers op dreef te kry.

Waaraan werk jy nou?

“Die boek waaraan ek nou werk, is ’n aanbod van ’n uitgewersmaatskappy in New York, na aanleiding van my tesis oor die rol wat voeding in paartjies se vrugbaarheid speel. Die titel is: A Comprehensive guide to nutrition in PCOS (Polycystic Ovarian Syndrome).

“Hoewel ek dit baie geniet, is die skryf hiervan ’n baie eensame pad. My lewe bestaan tot Maart aanstaande jaar wanneer ek my werk moet indien uit navorsing en skryf.”

Wat lees jy op die oomblik?

“Ek is ’n baie slegte fiksieleser. Ek geniet eerder selfhelp- en motiveringsboeke. Ek kuier by my kleinseun en op my bedkassie is D.J. Opperman se Kleuterverseboek en Die Groot Dierestorieboek van 1967. Die beste boek wat ek ooit gelees het, is Kane & Abel deur Jeffrey Archer.”

Trish Goosen, Vredenburg – Joernalis en skrywer

Benewens joernalistieke pryse wat Trish agter haar naam het, is sy besonder trots op haar drie liefdesromans: Liefde op Langebaan (2013), Hartstog op Hartenbos (2015) en Vurig op Flaminkevlei (2016) wat deur NB Uitgewers gedruk en uitgegee is.

Die drie verhale speel op vakansiedorpe af, waarvan Langebaan en Velddrif Weskusdorpe is.

Waaraan werk jy nou?

“My eerste drie boeke is hygromans. Ek is nou besig met ’n langer en meer volwasse liefdesverhaal.

“Ek het ongelukkig nie ’n publikasiedatum nie. Ek skryf maar stadig omdat ek heeltyds werk en my twee seuntjies my behoorlik besig hou.

“My nuwejaarsvoorneme is om die manuskrip teen einde 2019 klaar te maak. Daar is heelwat ander genres waarin ek belangstel, soos jeug- of kinderboeke.

“Ek hou ook van stories oor mense, maar wat bonatuurlike of fantasie-elemente bevat. Ek is iemand wat aan magic glo en het die verbeelding van ’n kind.”

Wat lees jy op die oomblik?

Prooi van Deon Meyer en Die Afrikaners van Hermann Giliomee. Ek lees ook graag vir my kinders en Die Goorgomgaatjie is op die oomblik ons gunsteling. Dis nou die Afrikaanse weergawe van die bekende boek The Gruffalow’s Child deur Julia Donaldson en Axel Scheffler.

“Ek is ’n filosoof en geniet alle leesstof wat hierdie deel van my voed – ook akademiese leesstof en veral boeke oor geskiedenis.

“Ek geniet Stephen King se werk, maar omdat ek so ’n ryk verbeelding het, maak sommige van sy stories my bang.

“Dan sit ek eerder die boek eenkant. Wanneer ek lees is dit veel erger in my brein as enigiets wat ek op die televisie sien. Ek ondervind dit wanneer ek skryf ook.

“Ek is bang om in Pandora se boks te delf.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.