Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
WCF ‘Weskus se beste’

Drie jong kunstenaars van die Weskus sien uit om hul stempel in die musiekbedryf af te druk en die jeug te inspireer om van dwelms en misdaad weg te bly.

Griffen Papier/Griffic Thunder (21), Lorenzo Huyster/Razer (20) en Newton John Lewis/Saba-bangz (19) staan bekend as West Coast’s Finest (WCF).

Papier en Huyster woon tans in Hopefield.

WCF is Donderdag 10 Januarie amptelik gestig.

Die lede skryf hul eie liedjies en vertolk verskillende rolle in die groep. Papier is die rymkletser, Huyster die regisseur en Lewis die sanger.

Weslander het kortliks met Papier en Huyster gesels oor hul reis as kunstenaars tot dusver, die oomblik toe hulle hul passie vir musiek ontdek het asook hul doelwitte vir die jaar as ’n groep.

Hulle onthou dat hulle van kleins af ’n liefde vir musiek gehad het en dat hierdie passie oor die jare gegroei het.

“Ek het my eerste liedjie toe ek 15 was in ’n vriend se slaapkamer opgeneem,” onthou Papier.

Huyster voeg by dat hy 14 jaar oud was toe hy sy passie vir rymklets ontdek het. Papier vertel ook toe hy sy ouers op ’n jong ouderdom verloor het, was musiek en om lirieke te skryf baie terapeuties in dié moeilike tyd.

“Ek het begin deur gedigte neer te skryf en later het dit ontwikkel dat ek die gedigte kon opsê en toe word dit lirieke,” verduidelik Papier.

Hy voeg by dat hul musikale inspirasie meestal plaaslike kunstenaars is soos Early B, Youngsta CPT, Hemelbesem, Yoma en Jerome Reds.

“Ons het ook verlede jaar, in Junie, die verhoog met Hemelbesem en Yoma by die Artscape-teater gedeel.”

Die groep het ook op Hype It Up, wat in Julie verlede jaar op Cape Town TV uitgesaai is, opgetree.

“Ons doen R’nB, rymklets en het nou begin met ’n bietjie reggae,” verduidelik Papier.

“Ek het onlangs my EP uitgebring, Pen en Papier, wat Vrydag 1 Maart, wat ook my verjaarsdag was, vrygestel is.”

Sy musiek is tans op die webwerf Audiomack beskikbaar.

WCF beplan om hul eerste CD voor die einde van die jaar uit te bring.

“Ons is tot dusver so halfpad deur die projek, wat ook ons eerste album as WCF sal wees.”

Hy sê hulle maak musiek saam met verskillende plaaslike musikante in die Weskus en hoop om mense op te neem en vir hulle ook blootstelling te gee.

“Ons probeer musiek uitstuur wat mense bymekaar sal hou en saam sal bring, want ons weet baie jong mense is deurmekaar met dwelms en ander verkeerde dinge,” verduidelik Papier.

“Die doelwit vir die jaar is om WCF sterker te maak en nog harder te werk, want ons wil groter hoogtes bereik as waar ons tans is.”

WCF het ook ’n paar woorde van wysheid om met die jeug te deel.

“Moet nooit opgee nie en leef jou droom uit soos jy dit gedroom het.”

Lesers wat nog inligting wil hê, kan Papier by 063 116 2465 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.