Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wees paraat in dié gebiede

Misdadigheid in Saldanha het die afgelope naweek weer die hoogte in geskiet met rooftogte wat weer hoogty gevier het.

Die plaaslike polisie het ná ses rooftogte verlede naweek een verdagte in hegtenis geneem. ’n Vuurwapen is ook gevind.

Die polisie maan inwoners om nie alleen in die gebied te loop nie. Die dorp se brandpunte is onder meer Diazweg, Saldanhaweg en Kusweg in die sakekern. Die gebied van Hoedjiesbaai af tot by Blouwaterbaai en Trichardstraat is ook van die algemene gebiede waar rowers mense oorval.

Volgens AO Yolande Kotze, ’n polisiewoordvoerder, gebruik rowers die geleentheid wanneer mense op pad werk toe is om toe te slaan.

“Die rooftogte vind veral in die oggendure plaas. Mense moet liefs nie alleen loop nie – maak nie saak watter tyd van die dag dit is nie,” waarsku sy.

Rooftogte is die afgelope maande een van die algemeenste misdrywe wat in Saldanha – in alle buurte – plaasvind.

Vrydag 28 Junie het vyf mans in die oggendure ’n klaer (23) in Walvisstraat genader en met ’n mes gedreig. Die slagoffer se selfoon en ’n wi-fi-versender is gesteel, alles ter waarde van R6 740.

Dieselfde dag is ’n man (44) omstreeks 23:00 in Kampstraat beroof. Die man was op pad huis toe en twee mans het hom genader. Die rowers het hom met ’n mes sowel as ’n vuurwapen gedreig en al sy geld, ’n aansteker en huissleutels gesteel.

Vier rooftogte is die volgende dag aangemeld met die eerste om middernag.

’n Man (58) is op die hoek van Da Gama- en Burtonstraat van agter deur twee rowers vasgegryp. Die aanvallers het die man geskop, getrap en met ’n mes gesteek voordat hulle hom van R4 000 beroof het.

Die polisie het sedertdien ’n 40-jarige verdagte in verband met dié rooftog in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandag 1 Julie in die hof verskyn.

Saterdag omstreeks dieselfde tyd is nog ’n Saldanhabaaier deur mans oorval – hierdie keer in Saldanhaweg. Die klaer is vasgehou en van ’n selfoon beroof.

Omstreeks 19:00 is ’n 29-jarige vrou in Daggeraadstraat met ’n vuurwapen gedreig en van haar handsak en skoene beroof.

Nóg ’n klaer is ook in Hoogland waar hy in sy voertuig gesit het, beroof. Die man (38) is omstreeks 01:00 deur twee mans by sy venster gedreig. Toe die man voet in die hoek probeer sit het, het hulle ’n vuurwapen uitgepluk en op hom gerig.

Die klaer is van sy selfoon, beursie met geld en bankkaarte beroof.

Kotze waarsku mense om veral nie laatnag of vroegoggend alleen te beweeg nie. Sy sê misdadigers is opportunisties en sal nie twee keer dink om iemand te beroof nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.