Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Werkloses: Verhale van inspirasie

Werklose jongmense het Jacques Booysen oorval toe hulle hoor sy maatskappy in Vredenburg bied ’n gratis NQF-vlak 3- rekenaar- en inligtingstegnologiekursus aan.

Lerole Power van West Coast One-windplaas buite Vredenburg het die kursus gefinansier om plaaslike jongmense tussen 18 en 35 jaar met belangrike en noodsaaklike vaardighede vir die toekoms te bemagtig.

Booysen, besturende direkteur van The HR & Skills Doctor en koördineerder van dié opleidingsprojek by die Vredenburg Skills Centre, reken – gemeet aan die groot reaksie op die aanvanklike advertensie vir die opleiding – werklose jongmense het ’n groot “honger en desperaatheid” om te leer en hul lewensgehalte te verbeter.

Selfs mense van ander dorpe het gebel en stel belang, maar kon weens ’n gebrek aan daaglikse vervoer of vervoerkoste ongelukkig nie deelneem nie.

Booysen het uiteindelik ook sy eie motor ingespan en brandstof uit sy eie sak betaal om toegewyde studente in die Vredenburg-omgewing tussen die klaskamer en hul huise rond te ry.

“Dit gaan natuurlik nie net vir ons oor die geld wat ons kry nie. Ons gee regtig om en wil die ekstra myl vir hierdie toegewyde studente loop. Hierdie kursus beteken so baie vir hulle en kan ’n groot verskil in hul lewe maak. Ons wil graag seker maak hulle het die nodige ondersteuning om ’n sukses daarvan te maak,” sê ’n trotse Booysen.

Volgens hom ontvou talle mooi verhale van inspirasie uit hierdie projek.

Khulekani Gama is só gemotiveerd, hy ry elke dag, ten spyte van geldelike uitdagings, van Saldanha af om die klasse by te woon.

Boonop het vyf van die studente midde-in die swak ekonomiese toestande weens die pandemie en ’n groot werkskaarste reeds werkaanbiedinge gekry danksy die vaardighede waarmee hulle by die Vredenburg Skills Centre bemagtig is.

Hoewel die kursus primêr vir jongmense beskikbaar gestel is, het ’n paar ouer inwoners, wat besef dis nooit te laat om nuwe dinge aan te pak nie, hulle ook vir die kursus ingeskryf. Booysen is besonder trots op hul vordering.

Een van hierdie ouer vroue, Nokuthula Sibhozo, het aanvanklik baie met die kursus gesukkel omdat sy nog nooit met ’n rekenaar gewerk het nie.

Booysen sê die kursus is van só ’n aard dat ’n student al die assesserings moet voltooi en ’n minimum van 80% moet behaal voordat hy of sy na die volgende module kan aanbeweeg. Sibhozo moes die assessering vir ’n sekere module 160 keer herhaal voordat sy geslaag en 85% behaal het.

“Ek is so bly vir haar. Aanhouer wen! Sy gaan aan die einde van haar opleiding met ’n sertifikaat beloon word, maar sy gaan regtig gemaklik voor ’n rekenaar wees, want sy het aanhou probeer totdat sy geslaag het. Sy sal nie sommer vergeet wat sy geleer het nie,” sê Booysen.

Hy vertel Sibhozo het ook haar suster Bongiswa Sibhozo, ’n skoonmaker, geïnspireer om die kursus aan te pak.

“Sy kom Saterdae en Sondae klas toe, want sy is die broodwinner en wil vir haar gesin ’n beter toekoms gee,” vertel hy.

Booysen sê die projek het heelwat uitdagings weens die pandemie en die inperking beleef.

Die drie maande lange kursus het reeds in Desember begin en was goed op dreef toe die afsonderingstyd begin het. Alles moes gestaak word en dit was eers met die verslapping van inperkingsregulasies na vlak 3 dat die studente weer klas toe kan kom. Ongelukkig was nie almal so bevoorreg om weer terug te keer nie.

Die inperking het daartoe gelei dat sommige van hulle en hul gesinne baie swaar begin kry het. Party is terug Oos-Kaap toe; ander moes intussen ’n werkie iewers aanvaar om die pot aan die kook te hou.

Booysen is hartseer oor die studente wat weg is, maar met die ongeluk is daar darem ook geluk vir diegene wat belanggestel het om die kursus te loop, maar nie voorheen plek gekry het nie.

“As almal klaar is met die kursus, sal ons hulle met hul CV’s help en hulp bied met die aansoekproses vir werk. Ons gaan hulle ook leer hoe om hul eie sakeondernemings te begin en te bestuur.”

Booysen sê laastens dit is sy droom dat hierdie soort sentrums oral in die Weskus sal opskiet en dat ruimhartige maatskappye en skenkers hul beursies deurlopend sal oopmaak om werklose mense se lewe te help verbeter en daardeur die plaaslike ekonomie te stimuleer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Weslander Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.